Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Verlede week het Môrester Sekondêr met Trapsuutjies-projekte saamgespan om een van drie geregistreerde “International Coastal Clean-Ups” (ICC) in die Groter Oudtshoorn- gebied te doen.
Hierdie skoonmaakaksies word in meer as 150 lande wêreldwyd uitgevoer met die doel om rommel wat met riviere uit die binneland na die see gevoer word, op te ruim voordat dit in die see beland.
Donna Plaatjies, onderwyseres by hierdie skool, is ‘n gereelde deelnemer aan Trapsuutjies se vakansie-#trashtags. “Ek wou iets ekstra doen om te wys dat ons skool betrokke is in ons omgewing en dat ons wil help om rommelstrooi te verminder,” vertel sy. “Die doel van ons aksie is om mense bewus te maak van die omvang van die besoedeling en die uitwerking daarvan op die mens en die aarde se gesondheid.”
Die gewone aktiwiteite rondom skoonmaakaksies moes aangepas word om COVID-19-protokol te akkommodeer.
Fotogalery: Môrester span saam met Trapsuutjies vir skoonmaak aksie
Onderwysers (leerders was ongelukkig met eksamens besig), gemeenskapslede, vrouens van die “Oudtshoorn Women Empowerment in Community”-inisiatief, YCOP, munisipale werkers en amptenare moes hande saniteer, koors laat meet en inteken voordat sakke, handskoende en datavorms aan hulle gegee is. Raadslede en die burgemeester het gehelp het om spekbome op die skoolgronde te plant.
Ongeveer 40 vullissakke is binne sowat ‘n uur-en-‘n-half gevul – data oor watter items, en hoeveel daarvan, opgetel is in die 3 Oudtshoorn-geregistreede skoonmaakasies, word aan PlasticsSA gestuur wat ‘n Suid-Afrikaanse ICC-verslag saamstel. Dit word dan saam met al die ander regoor die wêreld in ‘n internasionale rommelverslag saamgevat, wat vroeg in 2021 gepubliseer gaan word.
Twee ander aksies is ook gehou wat tot hierdie verslae gaan bydra: een by die Grobbelaarsrivier, en een in Dysselsdorp.
Vir navrae oor Trapsuutjies se maandelikse #trashtags, kontak Marilize Beer by 065 801 4810 of marilizebeer@yahoo.ca
‘n Groep gemeenskapslede en lede van die “Oudtshoorn Women Empowerment in Community”-inisiatief wat ook deelgeneem het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'