OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen Siphamandla Claassen (28) van Smartie Town wat twee en 'n half jaar gelede sy meisie wreed vermoor en verkrag het, is Dinsdag in die streekhof na die slotargumente van die staat en die verdediging vir vonnis tot volgende maand uitgestel.
Claassen het die aand van 8 Oktober 2016 vir Juliana Lingerveldt met 'n klip teen die kop gekap, haar daarna ontklee en verkrag.
Haar naakte lyk is die volgende oggend deur 'n verbyganger naby die volstruisslagpale opgemerk. Twee jong manne wat die betrokke aand saam met Claassen en Lingerveldt gekuier het, het getuig dat hulle gesien het hoedat hy sy meisie aanrand en verkrag.
Streeklanddros Neels Nortjé het Claassen se weergawe verwerp en hom aan moord en verkragting skuldig bevind.
Die staatsaanklaer, Corné Pretorius, het die hof vir lewenslange gevangenisstraf gevra vir een van die wreedste moorde en verkragtings in die Oudtshoorn-distrik wat hy van weet. Volgens hom het moord en verkragting nou al so algemeen geword dat dit nie eers meer die hoofopskrifte van koerante haal nie.
Volgens hom is 'n weerlose vrou wreed vermoor en haar naakte liggaam deur 'n verbyganger gesien. Dit moes 'n grusame toneel gewees het, het hy gesê.
Hy het die hof versoek om nie Claassen se ouderdom en die feit dat hy 'n eerste oortreder is as versagting in ag te neem om van die voorgeskrewe vonnisse af te wyk nie.
Die beskuldigde en die oorledene het vir 'n tyd saam gewoon en sy het hom vertrou.
'n Maatskaplike werker, Kyle April, het in sy verslag aanbeveel dat direkte gevangenisstraf die enigste gepaste vonnis sal wees alhoewel die beskuldigde sterk onder die invloed van alkohol was.
Claassen se regsverteenwoordiger, Eugene Roos, het die hof versoek om vir vonnisoplegging in ag te neem dat hy betreklik jonk is en reeds vir twee en 'n halwe jaar in aanhouding is. Volgens Roos sal lewenslange gevangenisstraf "skokkend onvanpas" wees. Hy het die hof ook versoek om die klagtes saam te neem vir vonnis.
Vonnisoplegging is uitgestel tot 10 Februarie.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'