OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen twee mans van Bongolethu wat van moord aangekla word, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof van die hofrol geskrap omdat ‘n getuie nie gedagvaar is om in die hof te verskyn nie.
Die twee verdagtes, Luthando Otto en Lwasi Maxongo, word van moord op Abriel van Wyngaardt aangekla. Van Wyngaardt is die aand van 21 Maart 2020 in Lappertstraat, Bridgton, met ‘n mes doodgesteek.
Otto het, voordat Maxongo aangekeer is, in ‘n beëdigde verklaring erken dat hy Van Wyngaardt gesteek het.
Na bewering het Otto en nog twee mans per motor na persone gesoek wat vroeër die aand by 'n geselligheid moeilikheid gemaak het. Van Wyngaardt is toe glo verkeerdelik aangesien as een van die beweerde moeilikheidmakers.
Otto se regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, het die staat se versoek om verdere uitstel teengestaan omdat die traagheid van die polisie om getuies te dagvaar onverskoonbaar is. Die voorval het reeds meer as twee jaar gelede plaasgevind.
Streeklanddros, Sylvia Mandla, het aan die verdediging se versoek voldoen en die saak van die hofrol geskrap omdat die beskuldigdes geregtig is op ‘n spoedige verhoor.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'