PRINS ALBERT NUUS - Die saak teen 'n man wat van moord aangekla word is in die Oudtshoorn-streekhof vir slotargumente tot later die maand uitgestel.
Leonard Jaftha (50) word daarvan aangekla dat hy op 25 Mei 2019 Ricardo Slabbert (24) met ‘n mes doodgesteek het nadat die oorledene hom glo vroeër die aand erg aangerand het.
Volgens Jaftha het hy die polisie gebel en later teruggegaan na waar Slabbert by vriende gekuier het, om hom te vra waarom hy ‘n ou man soos hy, so aangerand het.
Hy het getuig dat hy nie gegaan het om moeilikheid te gaan maak nie.
Een van sy vriende het die oorledene toe gevra om tot in die straat te kom en hy het ontken dat die oorledene geforseer was om dit te doen.
Hulle was besig om in die straat te praat toe die oorledene hom glo wou skop.
Volgens Jaftha het hy half agtertoe geval en toe hy orent kom het die oorledene hom glo in die mes vasgeloop.
Streeklanddros Ntsoki Moni het die saak vir slotargumente en uitspraak tot 25 Julie uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'