OUDTSHOORN NUUS - Die moordsaak van 'n 12-jarige meisie, Lizette Smit, wie se gebeentes in 2001 op 'n plaas in Volmoed gekry is, is dié week weer deur die Oudtshoorn-polisie heropen.
Smit het op 9 Junie 1999 op pad skool toe vermis geraak. 'n Vermiste persoon-klag is geopen.
Haar beendere is bykans twee jaar later op 2 April 2001, op die plaas, Muldersbank, 2 km van haar ouerhuis af gevind.
Die Oudtshoorn Courant het in 2001 berig dat twee persone, wat hout gesoek het, haar beendere onder 'n bos gevind het. Haar pa het haar op daardie stadium aan die klere wat sy tydens haar verdwyning aangehad het, uitgeken.
Sy is op Goeie Vrydag daardie jaar begrawe.
Die polisie het die saak van vermis na moord verander omdat daar glo frakture aan haar skedel was en die polisie gemene spel vermoed het.
Kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het die week aan die Oudtshoorn Courant gesê dat ondersoekbeamptes moontlik nuwe inligting rondom die moord op Smit het.
"'n Man is Sondag deur die oorlede meisie se familie na die polisiestasie gebring. Die man sou glo inligting oor die meisie se moord aan die polisie kon gee. Maandag wou die polisie 'n bekentenis by die man neem, maar hy het toe ontken dat hy enigiets van die moord weet. Hy het Dinsdag in die hof verskyn, maar die saak is van die rol geskrap."
Enigiemand wat inligting oor die moord het word versoek om kapt. Johan Bouwer by 044 274 4400 te skakel.
Alle inligting sal vertroulik hanteer word.
'n Berig in die Oudtshoorn Courant wat in 2001 oor Lizette Smith se verdwyning verskyn het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'