OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen 'n man van Klaarstroom, wat van moord op 'n 28-jarige man aangekla is, en aan moord met direkte opset skuldig bevind is, is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof weens beurtkrag vir vonnisverrigtinge tot 29 Mei uitgestel.
Lucano de Wee (28) het op 12 Maart 2022 vir Freek Jantjies (28) met 'n mes in die nek gesteek en hy is die volgende dag in 'n hospitaal in George oorlede.
De Wee het onskuldig gepleit en aangevoer dat hy homself verdedig het, maar sy getuienis is deur streeklanddros Sylvia Mandla, as vals verwerp.
Twee ooggetuies, Jenile Katzen en Ronelle Campher, het getuig dat die oorledene nie 'n mes by hom gehad het nie en hul getuienis is deur die hof as betroubaar bevind.
Volgens Katzen het hy die betrokke oggend saam met die beskuldigde, die oorledene en nog vriende aan 'n "kraantjie" wyn agter die huis van Ronelle Campher en Vernon Rondganger gedrink. Hy het ontken dat Rondganger met die beskuldigde baklei het en hom gewurg het.
Op 'n vraag van die beskuldigde se regs-verteenwoordiger, Eugene Roos van die Regshulpraad, of hy alles duidelik kon sien het hy ja geantwoord omdat dit so voor nege die oggend was.
Campher het egter getuig dat haar kêrel, Vernon Rondganger, op 'n keer kwaad geraak het vir die beskuldigde, hom voor die bors gegryp en twee keer met die kop geslaan het. Volgens haar was sy die enigste van hulle wat niks gedrink het nie.
Die oorledene het op 'n tydstip vir die beskuldigde gevra wat sy storie is waarop die beskuldigde hom "baie hard" geklap het.
Volgens haar het sy daarna nog 'n geluid gehoor en gedink dat die beskuldigde die oorledene terug geklap het. Sy was egter verbaas toe sy sien die oorledene bloei omdat sy nie 'n mes gesien het nie.
Sy het ook op 'n vraag van die staats-aanklaer, Thuba Nyamate, of daar 'n bakleiery tussen die oorledene en die beskuldigde was, nee geantwoord. Dit is ook onwaar dat die oorledene die beskuldigde met 'n mes wou steek.
De Wee het erken dat hy Jantjies met 'n mes, waarmee hy vroeër aartappels geskil het, gesteek het. Volgens hom het hy en Vernon Rondganger vroeër die oggend baklei, maar nie hy en die oorledene nie.
"Ek moes eintlik vir Vernon gesteek het en ek weet dit was verkeerd om die oorledene te steek. Ek was te haastig," het hy aan die staatsaanklaer gesê.
De Wee het ontken dat hy spesiaal huis toe is om 'n mes te gaan haal.
'n Verdedigingsgetuie, Wilma Plaatjies, het ook getuig dat sy nie 'n mes by die oorledene gesien het nie. Sy het ook getuig dat daar nie 'n bakleiery tussen die beskuldigde en die oorledene was nie.
Volgens die landdros is dit enige persoon se reg om homself te verdedig, maar dan moet hy die getuienis van ooggetuies kan weerlê.
Die hof het bevind dat De Wee nie homself verdedig het nie en gevra wat hy verwag as jy 'n gevaarlike wapen soos 'n mes uithaal en iemand daarmee steek.
Die hof het gelas dat De Wee, wat op waarskuwing was en 'n minimum vonnis van 15 jaar opgelê kan word, aangehou word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’