Update
OUDTSHOORN NUUS - Die 18-jarige Niven Donley wat teregstaan op die moord van Franklin Lukas, ook 18, is vanoggend op borgtog van R500 vrygelaat.
Donley is Sondagoggend 5 Julie omstreeks 04:45 in hegtenis geneem nadat hy Lukas die vorige aand omstreeks 22:00 in Rosehillstraat in Rosebank met ‘n mes gesteek het.
Daar was drie ooggetuies en een van hulle wat na bewering die hele voorval gesien het, se verklaring is deur die staatsaanklaer voorgelees. Volgens die persoon het Donley, wat ‘n mes by hom gehad het, vir Lukas gekonfronteer waarna vriende van Donley vir Lukas met klippe gegooi het. Hy het weggehardloop en is toe deur Donley met die mes gesteek.
Hy is minute later in die straat dood.
Donley het aangedui dat hy onskuldig op die klag van moord gaan pleit. Volgens sy verklaring wat in die hof voorgelees is, het hy en vriende op die straathoek gesit en drink toe Lukas hom genader het. Volgens hom wou Lukas se vriende hóm met klippe en ‘n graaf aanval. Hy het toe sy mes uitgehaal om homself te verdedig.
Hy onthou dat hy na Lukas gesteek het, maar het glo eers later gehoor dat hy dood is.
Die staat het nie borgtog teengestaan nie. Die hof het borgtog van R500 toegestaan, wat deur Donley se ma betaal is. Hy mag op geen manier met die drie getuies kontak maak nie en sal tot met die afhandeling van die saak by sy ouma in ‘n ander woonbuurt woon.
Die saak word na verdere ondersoek op 17 Augustus hervat.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'