OUDTSHOORN NUUS - Afskuwelik en wreed. So het streeklanddros Daniel Boks, die optrede van Flip le Grange (41), 'n man van De Rust, Woensdag in die Oudtshoorn-streekhof beskryf. Le Grange het 'n jong vrou verkrag, met 'n veter verwurg en toe halfkaal in 'n verlate gebou gelos.
Le Grange is tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis omdat die landdros nie enige buitengewone omstandighede kon vind om 'n ligter vonnis op te lê nie.
Hoewel hy erken het dat hy die 18-jarige Ronel Martins van Middelplaas op 8 Desember 2018 verkrag en vermoor het, kan dit nie gesien word as 'n rede tot versagting van vonnis nie, het die landdros gesê.
Volgens die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, was die oorledene aan Le Grange bekend omdat hulle saam op Middelplaas gewoon het. "Hy kon haar pa gewees het. Sy wou nie seks gehad het nie, maar hy het haar forseer," het Plaatjies gesê.
"As jy so iets doen kan jy nie toegelaat word om weer tussen mense te beweeg nie."
Die landdros het met vonnisoplegging gesê Le Grange is aan twee wrede en afskuwelike misdade skuldig bevind. Hy het 'n jong dogter in die fleur van haar lewe doodgemaak en inbreuk gemaak op haar regte.
President Ramaphosa het net onlangs gevra dat gekyk moet word na die regte van vroue en kinders en dat nuwe wette oorweeg moet word. Volgens die landdros is daar nie 'n ander misdryf wat so gereeld voorkom as verkragting nie en lewenslange gevangenisstraf is die enigste gepaste vonnis tensy spesiale omstandighede bewys kan word.
Die hof het in ag geneem dat Le Grange vir 'n lang tyd in aanhouding was en skuldig gepleit het, maar kon dit nie as versagting van vonnis bevind nie.
"Hy het die ergste gedoen wat op aarde gedoen kan word, naamlik om te verkrag en iemand se lewe te neem."
Volgens impakverslae van die oorledene se moeder en vader mis hulle hul dogter wat nie gedrink of gerook het nie, die huis bestuur het en haar gestremde suster versorg het.
Die hof het gelas dat Le Grange se naam in die nasionale register vir seksoortreders opgeneem moet word en hy is ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
Vorige artikels:
- Man skuldig aan verkragting en moord
- Borgtog geweier aan man wat glo vermoor
- Man wat vrou vermoor in hof.
- 18-jarige op plaas vermoor.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'