DE RUST NUUS - 'n Man van De Rust is Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof aan verkragting en moord skuldig bevind.
Flip le Grange (31) het in 'n pleitverduideliking erken dat hy Ronel Martins (18) van die plaas Rietfontein op 8 Desember 2018 in 'n verlate gebou op Middelplaas verkrag en daarna vermoor het toe sy gedreig het om 'n saak van verkragting teen hom aanhangig te maak.
Martins het op Vrydag 7 Desember 2018 op Middelplaas by familie gaan kuier, maar nooit teruggekeer huis toe nie. Haar liggaam is op Sondag 9 Desember 2018 in 'n ou, onbewoonde plaashuis gevind en die polisie het Le Grange die volgende dag in hegtenis geneem.
Le Grange sê in sy pleitverduideliking dat hy Martins die betrokke dag langs die pad gekry het en saam met haar gestap het.
Hulle is die leë gebou binne waar hy haar forseer het om met hom geslagsgemeenskap te hê.
Toe sy daarna aan hom sê dat sy haar ma daarvan gaan vertel, het hy haar met 'n ketting verwurg en die toneel verlaat.
"Ek is baie jammer oor my optrede," sê hy aan die einde van sy verduideliking.
Streeklanddros Daniël Boks het Le Grange op albei klagtes skuldig bevind.
Sy regsverteenwoordiger, Vaughn Shone, het die hof versoek vir 'n voorvonnisverslag en die saak is vir vonnisverrigtinge tot 20 Julie uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'