KAROO NUUS - 'n Nuwe primêre gesondheidskliniek nader nou voltooiing in Ladismith en behoort later vanjaar sy deure vir die plaaslike gemeenskap te open.
Volgens Nadia Ferreira, woordvoerder vir die departement van gesondheid in die Suid-Kaap, maak die kliniek voorsiening vir goed geventileerde wagkamers vir pasiënte en die uitleg van die kliniek sal die vloei van pasiënte bevorder.
Die koste van die kliniek beloop bykans R20 miljoen.
"Waar pasiënte van Nissenville, Sakkiesbaai en Varkieskloof daagliks na die PGS-kliniek by die Alan Blyth-hospitaal aan die anderkant van die dorp moes pendel, is die nuwe kliniek bykans twee kilometer nader en meer toeganklik," noem Ferreira.
Die kliniek sal sy deure soggens om 07:30 open en tot 16:00 dienste lewer.
Ferreira noem dat die huidige personeel van die kliniek in hul huidige poste na die nuwe kliniek verskuif sal word.
"Die primêre fokus van die kliniek sal op voorkomende maatreëls gemik wees. Die assessering van chroniese siektes soos diabetes, hipertensie asook die voorkoming van moeder-en-kindsiektes sal prioriteit geniet."
Immunisasie, bevordering van primêre gesondheidsorg en gesinsbeplanning sal bevorder word. Spesialisdienste soos byvoorbeeld dieetkundiges, fisioterapeute en arbeidsterapeute sal die kliniek op bepaalde tye in 'n maand besoek.
X-Stale sal nog by die Alan Blyth-Hospitaal gedoen word.
Sekuriteitsdienste sal ook 24 uur per dag hier gelewer word.
Volgens Ferreira sien die personeel daarna uit om die gemeenskap effektief en behoorlik te dien.
"Ons kan nog nie 'n spesifieke datum aandui waarop die kliniek sal open nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’