OUDTSHOORN NUUS - Rodney Gelant, bekende aktivis in Oudtshoorn, het onlangs, Miss Gay Fantasy, gehou om klem op die jaar se 16 dae van aktivisme van geen geweld teen vroue en kinders-veldtog te plaas.
Die jaar se tema van die veldtog fokus spesifiek op die transgender-gemeenskap.
Volgens Gelant is dit vir hom 'n riem onder die hart dat daar vanjaar op dié gemeenskap gefokus word.
"Daar is net soveel mishandeling in gay-, lesbian- en transgender-verhoudings soos in gewone verhoudings, maar dié gemeenskap word ook soveel meer geboelie."
Volgens hom het die modeparade hom gewys dat die gemeenskap van Oudtshoorn baie meer aanvaarding teenoor die LGBTQIA+-gemeenskap het.
"Die mense het gekom om die gemeenskap te ondersteun. Daar was plakkate wat die toeskouers vasgehou het wat dit gewys het. Dit was eintlik 'n emosionele aand om te sien hoeveel erkenning ons gay, lesbian en transgenders in die gemeenskap kry."
Gelant sê sy grootste mikpunt met die modeparades is om mense op te voed oor die LGBTQIA+-gemeenskap.
"Mense moet leer wie hulle is en waarvoor hulle staan. Ons soek nie toestemming vir wie ons is nie, ons wil net aanvaar word. Dit gaan ook nie net oor die opvoeding van die mense daar buite nie, maar ook oor die opvoeding van die LGBTQIA+-gemeenskap.
Hulle moet ook leer wat hulle regte is, maar hulle moet ook leer van hul self worth. Ek wil die mense leer dat hulle nie moet skaam wees vir hulself en wie hulle is nie."
Gelant sê hy gaan die veldtog op 10 Desember afsluit met nog twee modeparades wat hy by Kuiertuin gaan hou. Volgens hom is die skoonheidskompetisie deel van opvoeding en help dit mense om weer selfvertroue op te bou en hul waarde te kan sien.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'