OUDTSHOORN NUUS - Hoërskool Oudtshoorn het vanjaar, soos elke ander jaar, hulle Mnr. en Mej. Struisie gekroon, maar die jaar het hulle dit anders benader.
Maryke Botha, Struisies se bemarkingsbestuurder sê hulle wou weer die gemeenskap van Oudtshoorn, veral die toerismebedryf, bymekaar bring.
"Mnr. & Mej. Struisie 2020 is meer as net 'n spoggeleentheid vir die skool, maar ook ‘n simbool van hoop vir die gemeenskap van Oudtshoorn. Daar is besluit om by verskeie organisasies betrokke te raak sodat ons aan die gemeenskap kan teruggee. Hierdie projek het nuwe hoop en klein vreugdes in 'n bedrukte gemeenskap geskep.
"Die gemeenskap het saamgestaan en bo moeilike ekonomiese omstandighede uitgestyg. Die verlies van die KKNK en die knou wat die pandemie op die volstruisbedryf gelaat het, is blywend op die welstand van die Oudtshoorn-gemeenskap."
Leerders het tussen 7 Augustus en 4 September 13 episodes van die kompetisie, wat die liefdadigheidsprojekte insluit, digitaal opgeneem. Dit is by verskeie bakens in en om Oudtshoorn gedoen.
Die deelnemers het ondermeer Klipdrift Primêr besoek en geld en speelgoed, sporttoerusting, kos en plante aan die skool geskenk.
"APD-dagsorg, 'n dagsorg wat na kinders met gestremdhede omsien, was die deelnemers se volgende projek. Hulle het toiletware en kontant ingesamel asook gehelp om 'n tuinprojek te begin. Struisies het ook warm komberse aan die kinders geskenk. Deelnemers het ook Helen Bellinghanhof tehuis vir bejaardes besoek. Dr. Wessel Vermeulen het 'n kinderboekie Die Stoute Corona geskryf en 'n onderwyser van Hoërskool Oudtshoorn, Ronéll Lareman, het die illustrasies gedoen. Dr. Vermeulen het die boekies aan die skool geskenk en die inkomste gaan aan Helen Bellinghanhof."
Eljada-nasorg vir persone met gestremdhede was ook deel van die deelnemers se projek.
Die wenners van Mnr. & Mej. Struisie 2020 sal voortgaan om die gemeenskapsprojekte te ondersteun en die beeld van die skool en dorp uit te dra.
Die wenners soos hulle op 4 September gekroon is, is as volg:
• Mej. Struisie: Imogen Fourie
• Mnr. Struisie: Aziz Jantjies
• Mnr. Ad Astra: Ali Nait-Saidi en Mej. Ad Astra: Khanyisa Matshaka
• Mnr. en Mej. Fotogenies: Hanrü Storm en Hybre-Ann Hefke
• Mnr. en Mej. Persoonlikheid: Mekeyla Greyling en Druwon Lashawa
• Tweede Pluimprins: Hanrü Storm
• Tweede Vereprinses: Chrizanne Human
• Eerste Pluimprins: Nimo van der Merwe
• Eerste Vereprinses: Ruby-Ann van Heerden
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'