OUDTSHOORN NUUS - Die Polisiehoogte-nasorgsentrum het verlede week sy tweede jaarlikse modelaand in die sentrum gehou en van die kinders oor die naweek ook vir ‘n genotvolle toer en kamp na Plettenbergbaai geneem.
Volgens Phillip Seroux, wat die nasorgsentrum saam met sy vrou, Susanna, bedryf, was die modelaand en kroning van Mnr. en Mej. Nasorgsentrum, weer baie geslaagd.
Byron Claassen is vir die tweede agtereenvolgende jaar as Mnr. Nasorgsentrum 2021 aangewys terwyl Enastacia Swartz as Mej. Nasorgsentrum 2021 gekroon is.
"Dit is net nog ’n geleentheid om die kinders weg van misdaad en van die strate te hou," sê Seroux.
Die uitstappie na Plettenbergbaai was volgens Seroux nie net ‘n genotvolle een vir die kinders nie, maar ook baie leersaam.
"Die kinders het hulle gate uit geniet en die besoek aan ‘n reptiel- en leeupark was die hoogtepunt."
Seroux het sy dank uitgespreek teenoor die ouers van die nasorgsentrum wat gehelp het met die insameling van fondse vir die toer, asook vir die bydraes van Franzu Badenhorst van Famsa Karoo, Food Lovers Market, Oudtshoorn Mark Agentskap, adv. Michelle Weyers, lede van Oudtshoorn Staan Saam (OSS) en Rolene Rabie wat die aand georganiseer het.
Hy het ook sy dank uitgespreek teenoor almal wat die sentrum sedert sy stigting verlede jaar ondersteun en vir hulle bid.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'