KANNALAND NUUS - Die Kannaland-munisipaliteit is verheug dat die hooggeregshof hierdie week in hulle guns besluit het in ‘n saak wat deur die provinsiale minister van plaaslike regering, Anton Bredell, voor die hof gebring is.
Dit volg nadat Bredell die hof op 26 Maart genader het om te vra dat Kannaland nie met die finansiële administrasieproses wat hy reeds na die 2016-verkiesing ingestel het, mag inmeng en die uitvoering daarvan ondermyn nie.
Die hof het toe op 1 April beveel dat Kannaland nie met die adminsitrasieplan mag inmeng totdat die meriete van die saak aangehoor is nie. Daardie argumente is op 15 Junie aangehoor, maar op 17 September het Bredell die hof genader met ‘n klag van minagting van die hof omdat Kannaland nie die bevel van 1 April gehoorsaam het nie.
Waarnemende regter A.J Lekhuleni, het gister tydens sy uitspraak op daardie eerste saak gesê die instelling van administrasie het tot konflik gelei aangesien dit twee magspole binne die munisipaliteit veroorsaak het.
Hy het onder andere ook gesê dat die termyn waaroor die adminsitrasie tot dusver gestrek het kommerwekkend is en beslis nie as ‘n tydelike intervensie gesien kan word nie.
Hy het gesê dat so ‘n uitgerekte intervensie die outonomie van die raad benadeel en dat hy van mening is dat die aanwending van die implementeringsplan onwettig en ongrondwetlik was.
Hy het die aansoek van Bredell en ander Wes-Kaapse applikante met koste van die hand gewys.
Kannaland is reeds sedert kort na die verkiesing in 2016 onder finansiële administrasie deur Bredell in plek gesit. Die politieke leierskap in Kannaland ry sedert die 2016-verkiesing wipplank aangesien nie een van die drie partye in die raad ‘n voldwonge meerderheid het nie.
Aanvanklik het die ANC en die DA saamgewerk om Icosa uit die leierskapstoel te hou. Daardie samewerking het egter in November 2020 versuur en toe die ANC sy samewerking met die DA opgeskort het en Icosa gesteun het.
Bredell het die munisiplaiteit onder administrasie geplaas omdat hulle finansiële situasie benard was. Daar was onder andere ‘n Eskom-skuld van bykans R20 miljoen.
In reaksie op die hofbeslissing van gister het die speaker van Kannaland, Werner Meshoa, in ‘n verklaring gesê die hofbeslissing bring ‘n einde aan die aanslag van die DA op Kannaland. Hy sê dat die minister hom tot die hof gewend het nadat dit duidelik geword het dat die DA die beheer in Kannaland verloor het.
In reaksie op die hofuitspraak het Bredell gesê hulle bestudeer tans die uitspraak en sal dan op die pad vorentoe besluit.
'Ons bring jou die nuutste Kannaland nuus'