OUDTSHOORN NUUS - Die minister van justisie, Ronald Lamola, en die adjunkminister, Nkosi Pathakiole Holomisa, het Oudtshoorn verlede Donderdag besoek om die Kuyasa Combined Learning Centre by Oudtshoorn Korrektiewe Dienste te open.
Dit was ook die bekendstelling van die selfonderhoudenheidsprogram wat deur die departement begin is.
'n Nuwe trekker is ook aan Oudtshoorn Korrektiewe Dienste oorhandig.
Tydens hul besoek is daar ook skoene aan leerders van Bongolethu Primêr oorhandig. Die opening van die selfonderhoudenheidsprogram is as 'n historiese dag in die geskiedenis van korrektiewe dienste geag.
"Die program is geloods weens verskeie uitdagings wat die departement in die gesig staar soos ons begroting wat verminder. Die idee is om die oortreders te gebruik om die korrektiewe dienssentrums selfonderhoudend te maak," het Lamola in sy toespraak gesê.
Minister van justisie, Ronald Lamola oorhandig skoene aan 'n leerder van Bongolethu Primary School. Foto's: Liezl van Niekerk
Die program is dus tweeledig, nie net word daar gespaar op arbeid nie, maar leer die oortreders ook nuwe vaardighede wat hulle kan gebruik om beter in die samelewing aan te pas wanneer hulle vrygelaat word.
Die program het ten doel om lopende kostes in al die korrektiewe dienssentrums in die land te verminder deur die arbeid van die oortreders te gebruik.
"Ons visie is dat die oortreders hul eie kos moet kan produseer wat ons miljoene rande elke jaar sal spaar."
Korrektiewe dienste beskik oor 21 plase, nege bakkerye, 19 tekstielwerkswinkels, 10 staalwerkswinkels, 'n skoenfabriek en 10 houtwerkwinkels regoor die land. Deur die program kan die sentrums hul eie uniforms, groente, vrugte, melk, vleis en skoene produseer.
Minister Ronald Lamola tydens die opening van die sentrum.
In Oudtshoorn se korrektiewe dienssentrum word daar gewerk aan die oortreders se bouvaardigheid. Hulle leer ook om loodgieterwerk te doen, sweis, verf en landbou.
Die plaas by die Oudtshoorn-sentrum is in 2017 gestig op 1,5 hektaar grond. Hulle in die 2020/2021 finansiële jaar 29 066 kilogram se groente geproduseer.
Kuyasa Combined Learning Centre
Die Kuyasa Combined Learning Centre van die Oudtshoorn korrektiewe sentrum is ook geopen. Die gebou bestaan uit vier klaskamers waar oortreders wat nie skool voltooi het nie, die geleentheid kry om hul Abet-onderrig te voltooi.
Die sentrum het nie voorheen klaskamers gehad nie, en het die mans van die korrektiewe sentrum self gebou en meubels gemaak. Vroueoortreders wat in die vroueafdeling in Baron van Reedestraat is, kry ook hier klas.
Daar is ook planne om die oortreders se rekenaarvaardighede te verbeter.
Dit het die departement R928 000 vir die aankoop van boumateriaal gekos. Die departement het egter R1 393 000 gespaar deur nie van 'n buitekontrakteur gebruik te maak nie.
"Daar moet nooit 'n sentrum wees waar oortreders handjies gevou sit nie, hulle moet hul eie kos produseer en aan gemeenskaps-ontwikkelingsprojekte deelneem. Oortreders het die kapasiteit om opknappingswerk en skoonmaak-dienste aan publieke infrastrukture te lewer," het hy gesê.
Die ingang van die Kuyasa Combined Learning Centre van die Oudtshoorn Korrektiewe Sentrum. Foto: Liezl van Niekerk
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'