OUDTSHOORN NUUS - "Die minister moet asseblief nie soos sommige ander van Oudtshoorn vergeet as hy oor die Breërivier ry nie."
Dit was die hoop wat Joey Potgieter, voorsitter van Agri-Klein Karoo verlede Woensdag tydens die besoek van dr. Ivan Meyer uitgespreek het.
Dr. Meyer het Oudtshoorn in sy hoedanigheid as Wes-Kaapse minister van landbou besoek en Woensdagoggend 'n aantal landbouers toegespreek.
Die hoof- uitvoerende beampte van Agri-Wes-Kaap, Jannie Strydom, Oudtshoorn se burgemeester, Chris Macpherson en Memory Booysen, burgemeester van die Garden Route-distriksmunisipaliteit het ook die boere toegespreek en op vrae geantwoord.
Potgieter het tydens sy verwelkoming gesê die Klein-Karoo het baie uitdagings vir boere, waarvan waternood die grootste is en dat direkte kommunikasiekanale met die minister uiters noodsaaklik is.
Dr. Meyer het in reaksie gesê dat dit vir hom uiters belangrik is dat die landbousektor in die Klein-Karoo standvastig is en die versekering gegee dat hy beslis nie die streek uit sy gedagtes sal laat gaan as hy hiervandaan vertrek nie.
Meyer het daarop gewys dat landbou in die Wes-Kaap 'n groot ekonomiese dryfveer is en die enigste sektor is wat daarin kon slaag om tydens die Covid-19-pandemnie 'n positiewe groei te toon.
"Dit is iets wat beloon moet word en nie verder belas moet word nie." Hy het ook na die teenwoordigheid van die twee burgemeesters verwys en gesê geen streek se landbousektor kan optimaal funksioneer sonder 'n goeie munisipaliteit nie. "Niks is beter as 'n funksionele munisipaliteit nie. As dorpe verval, verval die boerdery," was een van sy opmerkings.
Om die belangrikheid van die Klein-Karoo as rolspeler in die land se landbou te beklemtoon het die minister boere daaraan herinner dat die proefplaas waar die vergadering Woensdag plaasgevind het, die enigste volstruisnavorsingsplaas in die wêreld is.
Beide Macpherson en Booysen het in hulle spreekbeurte verwys na die belangrikheid van die samewerking tussen munisipaliteite en die landbousektor en daar is na verskeie projekte verwys waar die plaaslike sowel as distriksmunisipaliteite deelneem aan landbouprojekte.
Booysen het gesê dat Covid-19 ons geleer het dat niks vanselfsprekend is nie en dat kosvoorsiening die grootste fokusarea is.
Plaasveiligheid was ook een van die besprekingspunte en die Wes-Kaap se projek om misdade op plase aan te meld en die vordering van sake te volg is aan boere bekendgestel.
Die uitwerking van die afgelope sewe jaar se droogte is deur Strydom uitgelig en hy het 'n beroep op die minister gedoen vir groter ingryping as wat tot dusver die geval was. "Die ondersteuning van die Wes-Kaapse regering is ongelooflik, maar mens kan nie die omvang van sewe jaar se droogte met 'n klomp vragte voer regstel nie. Watersekerheid is uiters belangrik."
In reaksie hierop en ook in reaksie op insette van boere wat gegee is, het die minister gevra dat Strydom 'n datum vir 'n virtuele vergadering tussen die departement en boere moet bepaal.
"Ek wil hê ons moet oor oplossings vir die waternood gesels. Ons kan 25% van die tyd gebruik om die probleem te bespreek, maar dan moet die ander 75% daaroor gaan om oplossings te vind," het Meyer gesê.
Volgens Potgieter is daar oplossings, maar dit gaan hulp van die regering en onderhandelinge met ander provinsies behels. Strydom het Dinsdag bevestig dat 'n datum reeds aan die minister se kantoor voorgelê is en dat hulle op terugvoering wag.
Tydens sy besoek het Meyer ook 'n sertifikaat aan lede van die VLV se Oudtshoorn-tak oorhandig uit erkenning vir hulle ondersteuning van landbou.
Landbou is slegs een van ses afdelings van die gemeenskap waarby die VLV betrokke is.
Tydens die besoek van dr. Ivan Meyer, provinsiale minister van landbou is, van links: Memory Booysen (burgemeester Garden Route-distriksmunisipaliteit), Jannie Strydom (hoof- uitvoerende beampte van Agri-Wes-Kaap), dr. Meyer, Joey Potgieter (voorsitter van Agri-Klein-Karoo) en Chris Macpherson (burgemeester van Oudtshoorn). Foto's: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'