OUDTSHOORN NUUS - Sy hart is steeds seer as hy dink aan die voorval op 21 Maart 1960 in Sharpeville waar 69 mense deur die polisie doodgeskiet is.
Só het 'n inwoner van Bongolethu, Fuzile August, op Maandag 21 Maart in die Bongolethu Thusong-sentrum, gesê tydens die viering van Menseregtedag.
Die dag is deur byna 200 kinders en 'n tiental volwassenes bygewoon en deur die jeugontwikkelingsdepartement van die Oudtshoorn-munisipaliteit aangebied.
August het gepraat oor die onreg wat bruin en swart mense in Oudtshoorn in die sestigerjare aangedoen is. Volgens hom is tye vasgestel wanneer jy nie op straat mag wees nie en sekere werk net vir wit mense gereserveer was.
"Ons kon ook nie in die dorp se swembaddens gaan swem nie," het August gesê.
Hy het die belangrikheid van opvoeding beklemtoon en die kinders aangemoedig om verder as 'n matrieksertifikaat te mik deur na 'n universiteit te gaan.
Die speaker van die Oudtshoorn-munisipaliteit, Sonia Bentley, het aan die kinders verduidelik dat die dag gaan oor mense wat hul lewens opgeoffer het vir vandag se vryheid.
"Dit is egter hartseer om te sien dat kinders nie meer liefde teenoor mekaar en ook nie teenoor grootmense betoon nie."
Sy het ook die belangrikheid van respek teenoor almal beklemtoon en bygevoeg dat die munisipaliteit nie alles kan doen nie, en bereid is om hande te vat met alle gemeenskapsorganisasies.
Dit is ook elkeen se reg om haar kantoor te besoek en 'n afspraak is nie daarvoor nodig nie. Pastoor Gladys George van Bongolethu het in haar boodskap ook klem gelê op liefde en respek.
"Maar voordat ons mekaar kan liefhê moet jy eers jouself liefhê."
Phillip Seroux van die Oudtshoorn Christelike Jeugforum, het die kinders aangemoedig om gebruik te maak van die geleenthede wat hulle vandag beskore is. "Jy kan groot hoogtes op enige gebied bereik indien jy jou beste gee."
Hy het egter gemaan teen die misbruik van hul regte en op verkeerde paaie beland.
Die dag is opgehelder met die optredes van twee dansgroepe van Bongolethu en 'n demonstrasie van inheemse speletjies voordat almal 'n heerlike middagete geniet het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'