OUDTSHOORN NUUS - 'n 15-jarige leerder van Vlakteplaas UCC Primêr, Shamiela Adams, is verlede Donderdag dood na sy per ongeluk deur 'n koeël van 'n windbuks getref is.
Adams het ten tyde van die voorval op die plaas, Aangenaam, by haar grootouers gewoon. Sy en haar 2-jarige seun het vir die middag op Buffels Valley-plaas (200 meter van Aangenaam) by haar oom, Samuel Adams, gekuier waar sy per ongeluk deur haar 11-jarige neef met 'n windbuks geskiet is.
Volgens familie wat op die toneel was, het hulle in die kamer gesit en musiek luister toe die nefie die windbuks speel-speel op Shamiela gerig het.
"Sy woorde was, 'Ek skiet gou, sê net ek kan nie.' Shamiela was besig om haar kind se doek om te ruil toe ons nefie haar geskiet het. Haar kind se pa het haar dadelik opgetel en na buite geneem om vir oom Samuel te vertel wat gebeur het. Sy het nog geleef, maar haar oë en lyf was baie swak. Oom Samuel is toe dadelik met Shamiela na De Rust-polisie toe. Vanaf die polisiestasie is hulle na Dysselsdorp-kliniek, maar op pad daarheen het sy gesterf."
Volgens familielede sou Shamiela en haar seuntjie die volgende week by haar oom se woning ingetrek het en was hulle die betrokke dag besig om meubels rond te skuif.
Die windbuks en nog ander items was glo versteek agter 'n groot klerekas. Met die rondskuiwery het die 11-jarige nefie glo toegang tot die gelaaide windbuks gekry.
"Ai, dis so onnodig, maar ek weet dit was 'n blote ongeluk," het Cornelia Jumats, Shamiela se ouma, gesê.
"Sy was my regterhand, my alles. Ek kon op haar staatmaak met enigiets wat ek haar gevra het. Sy bly reeds van babatyd by my omdat haar ma al die jare in Upington se wêreld werk. Dit gaan 'n groot aanpassing sonder Shamiela wees. Daar is nog heelwat reëlings wat getref moet word, so ons sal haar volgende week eers begrawe."
Isak Hendriks, skoolhoof van Vlakteplaas Primêr, het gesê dat die skool Vrydagoggend die boodskap ontvang het.
"Ons het die familie reeds besoek. Sy was 'n staatmaker in die klas en altyd op haar plek. Ons dra die familie in ons gebede en wens hulle sterkte toe met die pad wat voorlê. Mag haar siel in vrede rus."
Kaptein Gert Fourie, stasiebevelvoerder van De Rust-polisiestasie, het gesê dat hulle steeds met die ondersoek besig is.
"Ons wag vir die uitslae van die nadoodse ondersoek sodat ons presies kan sê waaraan die meisie dood is. Ons kan bevestig dat die verdagte minderjarig is en dat niemand nog in die voorval gearresteer is nie."
Samuel Adams was ten tyde van die Oudtshoorn Courant se besoek aan Buffels Valley-plaas nie tuis nie. Verskeie pogings om hom vandeesweek te probeer skakel was onsuksesvol.
Vlakteplaas UCC Primêr. Foto's: Wyndham Ewerts
Shamiela se familielede by wie sy op die plaas, Aangenaam, gewoon het is van links: Kaydene Adams, Hendrika Jumats, Cornelia Jumats en Shamiel Adams (Shamiela se ouma en haar seun) en Jason Adams. Voor: Ashwin Adams.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'