OUDTSHOORN NUUS - Die mens teken en skryf al vir eeue lank op klippe; dit kan gesien word aan die pragtige tekeninge wat deur Boesmans agtergelaat is.
Wat nie baie waardeer word nie, is die graffiti wat deur die moderne mens agtergelaat word – verf en skerp voorwerpe word gebruik om geliefdes se name en datums, alleenlik van waarde aan hulle, op die klippe te verewig.
'n Inwoner van De Rust, wat voor die Covid-pandemie na 'n saksofoon-opvoering in Meiringspoort gaan luister het, was teleurgestel toe hy sien in watter toestand die rotswande in die poort is.
"Daar was oral name, vanne en datums op die rotswande waar die opvoering plaasgevind het aangebring." Hy vertel dat die allermooiste musiek gespeel is, maar dat jou oog kort-kort die onooglike graffiti gevang het.
Die persoon, wat anoniem wil bly, het dadelik werk daarvan gemaak om die graffiti af te skrop. Dit het ongeveer twee maande geneem om dit skoon te kry. Hy vertel dat die ouer verf geweldig moeilik was om te verwyder omdat sommige van die skrywes jare terug aangebring is.
"Ek was onlangs weer daar en probeer om na elke KKNK-fees, skoolvakansie en langnaweek te gaan kyk of iemand weer iets op die rotswande geskryf het," vertel hy.
Anoniem sê dat hy dit skoonmaak sodat almal die mooi van die natuur kan geniet, sonder die onooglike gekrap. "Die oumense het gesê net gekke en dwase skryf op mure en glase."
Van die graffiti wat afgewas is. Foto's: verskaf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'