OUDTSHOORN NUUS - Met gerugte oor die munisipale bestuur van Oudtshoorn en plasings op sosiale media wat die afgelope twee weke wyd versprei is, blyk dit daar talle kwessies is waarop antwoorde nog nie ontvang is nie.
Die jongste kwessie wat inwoners laat mor, is 'n raadslid wat die afgelope 18 maande meer as dubbel sy salaris ontvang het.
Die Weekend Argus het die afgelope naweek berig dat Marcellis Theyse, wat verlede jaar in Mei as raadslid verkies is, bykans R30 000 per maand meer betaal is as waarop hy geregtig was. Alhoewel hy 'n gewone raadslid is, is hy vergoed volgens die skaal vir raadslede wat op die Uitvoerende burgemeesterskomitee dien.
Dit blyk dat dié finansiële foutjie tydens 'n besoek van die Ouditeur Generaal se kantoor ontdek is. Volgens Ntobeko Mangqwengqwe is die salaris van 'n gewone raadslid, wat Theyse moes ontvang, R261 952 per jaar (R21 829 per maand) teenoor die R620 813 per jaar (R51 734 per maand) wat aan lede van die burgemeesterskomitee betaal word.
Daar is slegs vyf raadslede op dié komitee, maar daar is sedert Junie verlede jaar vir ses betaal. Volgens Mangqwengqwe word die aangeleentheid ondersoek en sal die geld weer ingevorder word.
Die tweede kwessie waaroor daar gedurig gegis word, is die situasie van die burgemeester, Colan Sylvester, nadat hy elf aanklagte van die DA se federale raad in die gesig staar. Sy verhoor ten opsigte van dié klagtes sou op 20 November begin het, maar is op versoek van hom tot volgende week uitgestel.
Daar is intussen ook verneem dat drie DA-raadslede elk 'n klag van bedrog teen die munisipale bestuurder ingedien het. Dit is algemeen bekend dat daar tans groot onmin tussen die burgemeester en die munisipale bestuurder heers.
Die Oudtshoorn Courant kan nie op hierdie stadium oor die aangeleentheid berig nie aangesien geen direkte terugvoer van enige party ontvang is nie, maar daar is duidelike aanduidings dat daar tans 'n politieke spel in die dorp aan die gang is wat niks goeds vir inwoners voorspel nie.
Radio-onderhoud
Daar was Woensdag en gister gemengde reaksie nadat 'n advertensie versprei is wat aankondig dat die burgemeester gister in 'n radiogesprek op EDENfm oor kwessies soos ondersoeke, korrupsie, grondbesetting en binnegevegte sou deelneem.
Terwyl sommige mense van mening is dat dit hoogtyd is dat iemand openlik gesels oor wat agter die mure van die munisipaliteit gebeur, is ander van mening dat dit onverantwoordelik is om slegs een kant van 'n saak lugtyd te gee.
Volgens Mangqwengqwe kan die burgemeester nie in sy amp as burgemeester aan 'n openbare gesprek deelneem sonder dat spesifieke riglyne in die munisipaliteit se kommunikasiebeleid gevolg is nie.
Hy het gisteroggend gesê die advertensie was die eerste kennis wat hy van so 'n gesprek gesien het en dat die burgemeester dus nie in sy amptelike hoedanigheid aan die gesprek mag deelneem nie.
Dit blyk dat Sylvester aanvanklik aangedui het dat die gesprek oor die grondbesetters by die gholfbaan sou handel. Toe die advertensie egter Woensdag aankondig dat die gesprek oor verskeie ander kwessies gaan, is hy glo deur 'n senior DA-lid aangeraai om, in die lig van sy verhoor wat volgende week begin, nie aan so 'n gesprek deel te neem nie. Teen spertyd gister het dit geblyk dat die gesprek steeds sou voortgaan.
In 'n poging om die koring van die kaf oor die huidige situasie op Oudtshoorn te skei, het die Oudtshoorn Courant 'n aantal vrae aan Anton Bredell in sy hoedanigheid as minister asook in sy hoedanigheid as provinsiale voorsitter van die DA gestuur. Geen reaksie is teen spertyd ontvang nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'