OUDTSHOORN NUUS - In reaksie op die waterverlies van die reservoir aan die bopunt van Victoriastraat as gevolg van ‘n foutiewe klep, het die Oudtshoorn Courant vanoggend ‘n aantal vrae aan die munispalitiet gestuur.
In reaksie op die vrae het Chris Swart, senior bestuurder van water en riolering gesê die vyf reservoirs in Oudtshoorn word deur twee pyplydings vanaf die Raubenheimerdam voorsien.
Die reservoirs word deurentyd volgehou sodat daar genoeg water beskikbaar is ingeval daar ‘n probleem met toevoer vanaf die dam opduik. Die watervlak in die reservoirs word deur middel van outomatiese kleppe gereguleer.
Die klep wat watertoevoer na die Oos-reservoir in Victoriastraat beheer, het Donderdagnag nie outomaties gesluit nie en die reservoir het oorgeloop. Swart wys daarop dat die water wat verlore is, niks te doen het met ‘n kraak in die reservoir waaroor reeds in die verlede berig is nie.
“Wanneer die water in die Oos-reservoir bokant ‘n sekere vlak styg, word water deur die kraak verloor. Die reservoir se vlak word gevolglik so beheer dat dit nie normaalweg bokant die kraak styg nie,” het hy gesê.
Volgens Swart is die kleppe by die reservoirs in goeie werkende toestand en word gereeld nagegaan.
Wat die kraak in die Oos-reservoir aanbetref is daar in die begroting van 2019/2020 voorsiening gemaak vir die herstelwerk.
Swart rig ‘n uitnodiging aan inwoners om die munispaliteit se tegniese afdeling te kontak met enige vrae in die verband.
Die kontaknommer van munisipaliteit se tegniese afdeling is 044 272 4634.
Water stroom oor Victoriastraat Vrydagoggend.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'