OUDTSHOORN NUUS - Behalwe vir die gesondheidsrisiko van Covid-19 is die ekonomiese impak wêreldwyd enorm en Oudtshoorn word uiters swaar getref.
Met die voortslepende droogte het die ekonomie reeds geweldige verliese gelei. Die afstel van die KKNK alleen het tot 'n verlies van bykans R64 miljoen gelei, maar dit eindig nie daar nie.
Die toerismebedryf, alle vlakke van sport sowel as die algehele besigheidsektor word letterlik op die knieë gedwing.
KKNK
Die grootste ekonomies skok vir Oudtshoorn was die aankondiging Saterdagmiddag dat die KKNK nie meer sou plaasvind nie. Hierdie besluit is deur talle sakemense en rolspelers in die dorp veroordeel en daar is selfs daarna as "sotlik" bewys.
Die aankondiging van die president Sondagaand dat alle byeenkomste met meer as 100 mense voortaan onwettig is, het egter bevestig dat die direksie van Kunste Onbeperk die korrekte besluit geneem het.
Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK het hierdie week gevra dat die direksie geleentheid gegun moet word om die talle kwessies wat met die kansellasie gepaardgaan eers te ondersoek voordat hulle kan kommentaar lewer op stappe wat gedoen word en alternatiewe wat oorweeg word.
"Hier is ongelooflik baie mense en instansies betrokke en dit is onmoontlik om nou reeds spesifieke planne en stappe aan te kondig. Ons kan egter die versekering gee dat daar weer in 2021 'n KKNK sal wees," het hy Woensdag gesê.
Volgens plasings op sosiale media het 'n groot aantal akkommodasie-instellings reeds onderneem om mense se geld terug te betaal en die verlies te ly.
Toerisme
Tammy Moult, voorsitter van die Oudtshoorn- en De Rust-toerismekantoor, sê dat die Covid-19-epidemie 'n gatslag vir toerisme is.
"Die reisverbod wat tans in werking gestel is om die verspreiding te keer het 'n geweldige impak op plaaslike toerisme, veral omdat hoë risiko lande die primêre mark is wat toerisme na ons streek bring."
Volgens haar stroom kansellasies in en lei dit tot 'n groot verlies aan inkomste vir akkommodasie en toerismebestemmings in die streek.
"Ons weet ook nie hoe lank die reisverbod gaan duur nie en daar is slegs 'n klein persentasie van toeriste wat bereid is om hulle planne uit te stel eerder as af te stel. Ons maak nou meer as ooit van te vore staat op die plaaslike mark om te help om die krisis te oorkom."
Wat die tydelike sluiting van die Kango-grotte aanbetref, sê Moult dat hulle die besluit respekteer en hulle weet dat die besluit nie ligtelik geneem is nie.
"Dit is egter belangrik om te besef dat ander bestemmings steeds oop is vir besigheid en dat veiligheidsmaatreëls in plek is by meeste van die plekke."
Die ingangsarea van die Kango-grotte was Woensdag verlate nadat die grotte tydelik tot 14 april gesluit is. Foto: Hannes Visser
Sport
Verskeie sportbyeenkomste wat talle besoekers na Oudtshoorn sou lok en 'n enorme finansiële inspuiting vir die dorp sou beteken is ook weens die virus gekanselleer.
As daar na slegs twee van die sportgeleenthede wat afgestel is, gekyk word staar die dorp 'n verdere verlies van bykans R20 miljoen in die gesig.
Die SA tweekampkampioenskap wat einde vandeesmaand sou begin is afgestel. Volgens Dave van der Walt, operasionele bestuurder, was al die reëlings reeds in plek vir die toernooi wat môre sou begin en sou dit 'n inspuiting van ongeveer R10,5 miljoen vir die dorp beteken.
Ook die groot SA swemgala wat Dinsdag by NA Smit-swembad sou begin is gekanselleer. Lluwellyn Coetzee, president van Wes-Kaap-swem sê die inkomsteverlies vir die dorp word op bykans R8 miljoen geskat.
SWD-rugbyunie het ook bevestig dat alle wedstryde onder dié unie se vaandel tot 14 April weens die koronavirus opgeskort is. Dit sluit sosiale ligavergaderings, vriendskaplike wedstryde, toernooie en spanoefeninge in. Die spelers word aangemoedig om op 'n individuele basis te skaaf aan hul fiksheid totdat die situasie weer geassesseer word.
Alle parkrun-wedlope regoor die land is ook afgestel.
Besighede
Dat die ekonomiese verliese aan plaaslike besighede enorm is, is 'n gewege. Behalwe daarvoor dat minder besoekers die dorp besoek, het verskeie besigheidseienaars ook aangedui dat hulle sukkel om voorraad vir gespesialiseerde dienste te bekom.
Die nuutste spyker in die kis is die aankondiging deur die regering Woensdag dat alle persele waar drank verkoop word voortaan slegs tussen 09:00 en 18:00 in die week en vanaf 09:00 tot 13:00 op Saterdae en Sondae oop mag wees.
Daar mag ook nie op enige gegewe tydstip meer as 50 mense in die perseel wees nie.
Volgens 'n restauranteienaar op Oudtshoorn is dit onduidelik of 'n restaurant soos syne byvoorbeeld na 18:00 mag oopbly as hulle nie drank verkoop nie, of later mag oopbly as hulle alle drankverkope staak.
"Ons prokureurs is besig om duidelikheid hieroor te kry. Ons kan byvoorbeeld ons dranklisensies prysgee, maar dan kry ons dit dalk nooit weer terug nie."
"Die meeste restaurante se geld word saans verdien, as ons nie na sesuur kos mag bedien nie, kan ons net sowel toemaak."
Die Oudtshoorn Courant het verneem dat restauranteienaars van die dorp gister om 12:00 sou vergader om die toepassing van die 18:00 klokreël te bespreek.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'