Update
OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen die twee vroue van Oudtshoorn, Leanda van den Berg (56) en Christina Gorgens (57), wat deur Media24 aangekla word nadat hulle na bewering Media24 se publikasies op WhatsApp-groepe versprei het, se saak het op 29 Januarie in die Kaapse hooggeregshof voorgekom.
Hulle was nie teenwoordig toe die regter die saak aangehoor het nie.
Ishmet Davidson, uitvoerende hoof van Media24, het aan Oudtshoorn Courant gesê Media24 se aansoek om 'n interdik teen twee administrateurs van 'n WhatsApp-groep vir beweerde kopieregskending, is toegestaan.
"Media24 verwelkom die toestaan van sy aansoek wat twee administrateurs van 'n WhatsApp-groep verbied wat PDF-weergawes van die uitgewer se koerante en tydskrifte versprei het. Dit is 'n presedentskeppende uitspraak deur die hooggeregshof (op 29 Januarie 2024), met 'n regter wat vir die eerste keer beslis het dat die ongemagtigde verspreiding van kopieregmateriaal wel onwettig is."
Volgens Davidson kos die onwettige reproduksie en verspreiding van koerante en tydskrifte die mediabedryf elke jaar miljoene rande aan verlore inkomste alleen.
"Dit hou nie net 'n ernstige bedreiging in vir die lewensvatbaarheid van kwaliteit-joernalistiek, wat duur is om te vervaardig nie, maar ook vir die noodsaaklike rol wat media in ons brose demokrasie speel. Kopiereg is heilig vir die volhoubaarheid van 'n onafhanklike media, en Media24 bly daartoe verbind om dit tot elke prys te beskerm."
Hy het aangedui dat Media24 nie in hierdie stadium gaan kommentaar lewer oor die detail van die uitspraak nie. Daar is ook nog nie 'n uitsteldatum bepaal nie. Dit sal bepaal word as deel van die volgende stap in die proses.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’