OUDTSHOORN NUUS - Chris Macpherson, burgemeester van Oudtshoorn en Devlin Mitchell, provinsiale minister van vervoer, het onlangs 'n vergadering gehou om op die dienslewering by die verkeersdepartement, die bedryfsvorderingstelsel van die taxistaanplek sowel as die geïntegreerde vervoerplan, te fokus.
MacPherson het in verskeie areas hulp vanaf Mitchell gevra:
- Twee graad A-eksaminators vir rybewyse en een graad L-eksaminator word benodig.
- Die Oudtshoorn-munisipaliteit het ook ‘n voertuigskut nodig vir die beslaglegging van publieke voertuie.
- Die verkeersafdeling se gebou moet opgradeer word.
- Die uitreiking van elektroniese-handtoestelle wat tans deur provinsiale verkeersamptenare in die Wes-Kaap gebruik word om boetes uit te reik.
- Dat verkeersingenieurs Oudtshoorn-munisipaliteit assisteer met ‘n opname vir die gemiddelde spoed oor afstandskameras op die provinsiale paaie rondom die Oudtshoorn munisipale area.
- Die Oudtshoorn-munisipaliteit het ook ‘n opsporingstelsel nodig om die misbruik van voertuie in die vloot te bekamp.
Die taxistaanplek is ook besoek en MacPherson het genoem dat die voorsitters van taxiverenigings die implementering van orde en struktuur asook verbeterings aan die fasiliteite van die taxistaanplek aangebring het.
Mitchell het belowe dat daar na die versoeke gekyk sal word en waar die department hulp kan verleen.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'