OUDTSHOORN NUUS - Maveline Terblanche, 'n 18-jarige leerder van Dysselsdorp Sekondêr, en hoofmeisie van die skool, het tydens haar prysuitdeling uitmuntende prestasies behaal, en wil met die aanvang van die eindeksamen ander leerders inspireer om hul beste te doen.
Sy het die skild ontvang vir student van die jaar, en daarmee saam het sy ook die beker ontvang vir eerste plek in die top-10 van haar jaargroep met 'n persentasie van 76,90%.
Sy ontvang drie wisseltrofeë vir besigheidstudies (87%), Afrikaans (76%) en geskiedenis (85%) en drie kultuurtoekennings vir VCSV, redaksie en rotary.
Terblanche se broer, Angelo Pieterse, sê hy is ongelooflik trots op wat sy suster vermag het.
"Ons pa is dood toe sy agt jaar oud was. Ons ma is twee dae voor haar matriekafskeid, op 11 September oorlede. Dit was in die middel van haar eksamen, maar sy het nie dat dit haar onderkry nie."
Sy het by haar tannie, Moshida Malgas, en twee broers, Angelo en Johnathan groot geword.
"Ek het haar probeer motiveer sover ek kan, en het vir haar gesê ek sal haar betaal vir elke 6 en 7 op haar rapport. Ek is baie trots op die feit dat sy nooit opgegee het nie en altyd deurgedruk het," vertel Pieterse.
Terblanche sê sy wil volgende jaar graag B.Ed. senior en VOO-fase gaan studeer by die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie.
"My raad aan mede-studente en veral my mede-matrieks wat nou met die eksamen besig is, is bly by die voete van Jesus en hou vas aan Sy soom, want toe ek voel asof die lewe teen my is, toe kon ek na Jesus roep en Hy het my definitief gehoor."
Die waarnemende adjunkhoof, Beulah Saayman, van Dysselsdorp Sekondêr sê Terblanche is sedert 2019 (gr. 8) 'n ingeskrewe leerder by hulle skool.
"Vanaf gr. 8 tot 12 was sy nog elke jaar die toppresteerder in haar graad met 80% en meer. Sy het verskeie toekennings tydens die prysuitdeling ontvang en het ook diens gedoen as lid van die skool se verteenwoordigende leerderraad. Maveline se akademiese prestasies het gebeur ten spyte van die feit dat sy haar pa reeds in 2011 verloor het. Sy het ook haar mammie gedurende die September voorbereidende eksamen aan die dood afgestaan. Maveline het egter ten spyte van haar mammie se siekte (spesifiek die afgelope twee jaar) net haar beste gelewer. Met haar innemende persoonlikheid en geloof in God wat sy daagliks uitleef, wens ons, Dysselsdorp Sekondêr haar net voorspoed en alle sterkte toe met haar finale eksamen."
Maveline Terblanche met 'n foto van haar ouers. Haar broers, Angelo Pieterse en Johnathan Terblanche, staan langs haar.
Maveline Terblanche na die prysuitdeling. Foto's: verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’