OUDTSHOORN NUUS - Langenhoven Gimnasium is een van vyf WKOD hoërskole in die Eden- en Sentraal Karoo-distrik wat 100% slaagsyfer in die matriekeksamen van 2017 behaal het.
Die ander skole is Hoërskool Heidelberg, Hoër Landbouskool Oakdale, Hoërskool Punt en York High. Die Shalom Akademie, 'n privaat skool in Ladismith, het ook 100 % slaagsyfer.
Volgens Paddy Attwell, woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, het 46 skole in Eden- en Sentraal Karoo-distrik aan die 2017-matriekeindeksamen deelgeneem en 81,7% van die leerders het geslaag.
Die Oudtshoorn Courant se verslagspan het vanjaar van die skole in die Oudtshoorn-omgewing tydens die aankondiging van die uitslae besoek.
Langenhoven Gimnasium se skoolhoof, Stephanus Potgieter, het gesê dit is die vierde agtereenvolgende jaar dat Gimmies 100 % slaagsyfer bereik. "Ek is nie net trots op die slaagsyfer nie, ek is ook trots daarop dat daar vir die meer as 700 vakeksamens wat geskryf is, slegs drie druipvakke was uit die hele groep van 100 matrieks wat die eksamen afgelê het." Hy sê 61% van die matrieks het algehele universiteitsvrystelling gekry en die gemiddelde persentasie van die groep was 65%. Gimmies se topkandidaat was Helena van Heerden met 89,7%. Sy is gevolg deur Niel Els (87,9%), Minette Steyn (87,3%), Heinrich Stover (86,9%) en Cameron Nel (86%).
Hoërskool Oudtshoorn (Struisies) se matrieks het 'n slaagsyfer van 97% behaal. Van die 103 matrieks het 100 geslaag. Struisies spog met ses A-kandidate en 67 matrieks kan tot universiteite toegelaat word.
Die topleerder, Sofie Heller, het 87,14% behaal. Volgens Heller gaan sy kommunikasiekunde aan die Universiteit van Kaapstad studeer.
Die ander A-kandidate (nie in volgorde van prestasie nie) is Lara van der Walt, Lisa Victor, Marhüzahne Storm, Carmaine Luyt en Lilla Terblanche.
Fezekile Sekondêre Skool het vanjaar 'n slaagsyfer van 73%. Vanjaar was daar 63 matriekulante wat eksamen geskryf het.
Volgens hul skoolhoof, Thembeka Mabongo, het 22 leerders universiteitstoelating gekry.
"Dit is meer as verlede jaar s'n. Dit beteken die kwaliteit werk van die leerders het ook verbeter. Ons as personeel is baie opgewonde oor 2018, want ons weet ons leerders gaan vanjaar hard werk."
Fezekile se toppresteerder is Thabo Majola wat met 73% geslaag het en hy het een A. Veronica Bolitye, is tweede op die lys met 69% en een A en derde is Tibrovenia Bezuidenhout met 67%.
By Aurial Kollege het 31 leerders die eindeksamen aangedurf en 74,2% het geslaag.
Jean Swanepoel, Aurial Kollege se skoolhoof, sê hy is tevrede met die leerders se prestasie.
"Dit was min of meer wat ons van die groep verwag het. Ons 'n sterker klas vir 2018 wat sal beteken dat die jaar se uitslae dalk beter gaan lyk."
Denoleen Maree is vanjaar hul topkandidaat met 65% slaagsyfer en Delicia Nortje tweede met 64%.
Bridgton Sekondêre Skool se 'n slaagsyfer is 70,1%. Van die 201 matriekkandidate het 141 geslaag.
Môrester Sekondêre Skool het 'n 81,6% slaagsyfer behaal. Van die 125 wat in 2017 die matriekeindeksamen geskryf het, het 102 geslaag en kan 21 leerders universiteit toe gaan. Hul topkanditaat is Jacqueline Ewerts.
Hoërskool Dysselsdorp het 'n slaagsyfer van 64,7 %. Uit die 119 matrieks wat aan die eksamen deelgeneem het, het 77 geslaag. Cameron Lewis, wat ook die skool se hoofseun was, is hul toppresteerder.
Ander skole in die Sentraal Karoo-distrik se slaagsyfer vir matriek 2017 is:
- Hoërskool Sentraal (Beaufort-Wes): 93,8%
- Beaufort-Wes Sekondêr: 75,1%
- Calitzdorp Hoërskool: 82,8%
- De Rust Sekondêr: 88,7%
- Ladismith Hoërskool: 86,8%
- Ladismith Sekondêr: 91,7%
- Uniondale Hoërskool: 89,1%
- Zwartberg Hoërskool (Prins Albert): 89,7%
Struisies se A-kandidate is van links: Lilla Terblanche, Lisa Victor, Sofie Heller, Lara van der Walt, Marüzahne Storm en Carmaine Luyt. Foto: Christo Vermaak
Die vreugde onder mede-Struisies was duidelik sigbaar met die ontvangs van hul matriekuitslae. Foto: Christo Vermaak
ARTIKEL: OUDTSHOOR COURANT-VERSLAGSPAN
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'