Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Die munisipale skut het die afgelope naweek 'n markdag en 'Doggy walk' by die skut aangebied.
Volgens Colleen Smith, 'n liefdadigheidswerker van Oudtshoorn Dogs in Need, was die dag 'n reusesukses.
"Ten spyte van die reën het daar geweldig baie mense opgedaag.
"Daar was definitief 'n groter hoeveelheid mense as verlede jaar. Ons het baie skenkings ontvang en die diere het die aandag so geniet," het sy gesê.
Volgens haar het hulle ongeveer R15 000 ingesamel.
"Hierdie geld kan ons aanwend vir uitstaande rekeninge en salarisse. Dit was ongelooflik om te sien hoe mense ons ondersteun met hierdie dag," het sy gesê.
Smith sê daar is nóg geldinsamelings wat hulle vir die jaar beplan.
"Ons gaan 'n kalender aan die einde van die jaar bekendstel wat groot pret gaan wees om te maak. Ons beplan ook nog 'n markdag."
Smith sê sy wil graag almal bedank wat altyd help.
"Daar het mense van sover as George, Knysna en Wildernis gekom. Die hoogtepunt was natuurlik die aannemings. Die Verlindes het hul sewende hond by ons aangeneem en daarvoor sê ons baie dankie."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'