OUDTSHOORN NUUS - Die burgemeester van die Groter Oudtshoorn-distrik, Chris Macpherson het Saterdag 'n Mannemars gehou ter afsluiting van die 16 Dae van Aktivisme teen geweld teen vroue en kinders-veldtog.
Phillip Seroux van die Oudtshoorn Christelike Jeugforum en Franzu Badenhorst van Famsa en verskeie raadslede het die Mannemars meegemaak.
Die optog, wat deur die Lutherse orkes begelei is, het by die Bridgton-sportgronde begin en by die Bongolethu-polisiestasie geïndig waar hulle 'n memorandum aan vroue oorhandig het.
Macpherson het die memorandum aan die vroue voorgelees.
Volgens die memorandum, wat afkomstig is van al die mans wat aan die mars deelgeneem het, verstaan hulle dat enige vorm van geweld teen vroue en kinders heeltemal onaanvaarbaar is.
"Ek verklaar dat ek nie myself sal skuldig maak aan geweld teen vroue nie, ek sal ook my teenkanting teenoor dié tipe geweld uitspreek. Ek belowe ook dat ek die geweld teen vroue en kinders sal aanspreek en dat ek my verantwoordelikhede as man, pa en eggenoot teenoor vroue in my familie aanvaar," lui die memorandum.
Seroux het met die oorhandiging gesê dat geweld teen vroue en kinders heeltemal te veel voorkom en dat mans in die gemeenskap moet opstaan teen dit.
"Ons het gehoop vir meer mans vandag, maar dit dui op 'n tekort aan leierskap in die gemeenskap. Ons hoop dat die mans meer verantwoordelikheid in hul huise en gemeenskap sal aanvaar."
Na die oorhandig het die vroue saam met die mans terug na die sportgronde geloop.
Die orkes saam met mans wat aan die optog deelgeneem het.
Chris Macpherson (regs), tydens die oorhandiging van die memorandum. Foto's: Liezl van Niekerk
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'