Update
LADISMITH NUUS - Lede van die Tuinroete-blitspatrollie en die Ladismith-polisie, het Saterdag inligting ontvang van dwelms wat na die Suid-Kaap op pad is.
Volgens sers. Christopher Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, was die lede strategies op die R62 tussen Ladismith en Barrydale geposisioneer.
"Die lede het 'n Quantum-bussie gestop en deursoek. Daar is 1 006 Mandrax-tablette en 120 gram tik met 'n straat waarde van R92 000 in die bussie gevind. "n Man is vir handel in dwelms in hegtenis geneem."
Volgens Spies dui voorlopige ondersoeke daarop dat die dwelms vir Calitzdorp bestem was.
"Die verdagte is van Stellenbosch en sal Maandag in die Ladismith-landdroshof verskyn."
Volgens Spies is daar in ander onlangse voorvalle R60 000 se dwelms gevind.
Lede van die Attaqua honde-eenheid en Tuinroete misdaadintelligensie-eenheid het ook op 24 Augustus op inligting gereageer van 'n blou Audi A2 wat na bewering dwelms tussen George en Oudtshoorn vervoer het.
"Die lede het 100 gram tik in die voertuig gevind en 'n 18-jarige is in hegtenis geneem. In Dysselsdorp het lede 'n huis in Kokstraat deursoek en 442 Mandrax-tablette, vyf kwarte Mandrax-tablette en twee sakkies tik in die huis gevind. 'n Rondte ammunisie is ook deur die honde-eenheid se plofstofhond gevind. 'n 29-jarige man is in hegtenis geneem."
Kontant wat die polisie tydens een van die deursoekings gevind het.
Vorige artikel: Mandrax en tik gevind
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'