DYSSELSDORP NUUS - Hy gaan nou 'n eis teen die polisie instel vir mediese uitgawes en vernedering.
So sê Kiewiet Smith (42) van Dysselsdorp wat van roof, verset teen arrestasie en aanranding om ernstig te beseer aangekla, en Donderdag in die Oudtshoorn-landdroshof vrygespreek is.
Smith van Waaikraal op Dysselsdorp, is daarvan aangekla dat hy op 8 September 2017 'n polisiebeampte se vuurwapen afgeneem het, hom verset het om in hegtenis geneem te word en ook die beampte aangerand het.
Die voorval het plaasgevind nadat Smith die polisie ontbied het vir sy seun se oproerigheid.
Twee konstabels het by die woning van Smith op Waaikraal aangekom en probeer om sy seun, Justin, te arresteer.
Justin het egter weggehardloop waarna die onderonsie tussen Smith en een van die konstabels plaasgevind het. Justin het die polisie glo gedreig en met klippe gegooi voordat hy weggehardloop het.
Die konstabel het getuig dat Smith hom met die vuis in die gesig geslaan en sy vuurwapen probeer afvat het. Hy het die ander konstabel ook glo aangerand en hulle moes polisieversterkings inroep om hom te arresteer. Hy het hom toe verset.
Smith het getuig dat een van die konstabels hom aangerand het en in sy sy geskop het. Hy ontken dat hy die twee manne in blou aangerand of die een se vuurwapen wou afneem.
Landdros Roelf Konstabel het bevind dat die staat nie sy saak bo redelike twyfel bewys het nie.
Hy het bevind dat dit onwaarskynlik is dat die beskuldigde die konstabel van sy vuurwapen kon beroof terwyl 'n kollega 'n paar tree van hulle gestaan het.
"Dit wil voorkom asof die beskuldigde kalm was omdat dit juis hy was wat die polisie ontbied het. Dit is ook onwaarskynlik dat die beskuldigde sy lewe in gevaar sou stel terwyl 'n ander polisieman, met 'n vuurwapen, toekyk."
Volgens 'n mediese verslag het Smith beserings opgedoen en een van die konstabels het erken dat dit in die worsteling kon gebeur het.
Die hof het Smith se weergawe eerder as die van die twee polisiebeamptes aanvaar as waarskynlik waar.
'Ons bring jou die nuutste Dysselsdorp, Klein Karoo nuus'