OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Oudtshoorn wat 'n 15-jarige seun met 'n mes gesteek en van R2.50 beroof het, is in die streekhof 10 jaar gevangenisstraf opgelê.
Die 32-jarige Eugene Titus het skuldig gepleit op aanklag van roof met verswarende omstandighede.
Hy het erken dat hy die aand van 14 Mei 2016 in 'n huiswinkel in Avontuurstraat, Bridgton, die seun van sy geld beroof het.
Volgens sy pleitverduideliking wat deur sy regshulpprokureur, Brian Carelse, aan die hof voorgelees is, wou hy net die seun met die mes skrikmaak, maar hom toe per ongeluk in die gesig gesteek.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het vir 'n lang gevangenisstraf gevra omdat Titus aan 'n ernstige misdaad skuldig bevind is en reeds 13 vorige veroordelings het.
Hy is in 2008 ook aan roof skuldig bevind en vyf jaar tronkstraf opgelê. Hy is toe ook al onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
Streeklanddros Retha Pretorius het Titus gevonnis tot 10 jaar gevangenisstraf waarvan sy die helfte voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'