OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen Paul Fouche, 'n 32-jarige man van Bridgton wat aan seksuele aanranding skuldig bevind is, is verlede Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof vir vonnisverrigtinge tot einde Augustus uitgestel.
Fouche word daarvan aangekla dat hy 'n 11-jarige meisie in sy slaapkamer betas het, nadat hy haar gevra het om sy rug te smeer. Fouche is aanvanklik borgtog toegestaan na hy in hegtenis geneem is, maar is intussen weer vir 'n seksuele misdryf in hegtenis geneem.
Sy borgtog is teruggetrek en hy is in aanhouding.
Fouche het ontken dat hy die kind op 'n bed neergegooi het toe sy geweier het dat hy aan haar geslagsdeel vat. Hy het getuig dat die kind 'n storie teen hom opmaak.
Die staatsaanklaer, Willem Vister, het die hof versoek om sy weergawe te verwerp omdat hy dit aanpas.
Streeklanddros Retha Pretorius het in haar uitspraak gesê die kind het 'n gunstige indruk op die hof gemaak alhoewel daar etlike weersprekings in haar getuienis was. Volgens Pretorius is die weersprekings verstaanbaar omdat dit 'n erge traumatiese ervaring moes wees.
"Sy het goed getuig en is intelligent genoeg om vrae te beantwoord. Dieselfde kan nie van die beskuldigde gesê word nie. Hy het 'n swak indruk op die hof gemaak, was nie konsekwent nie en het homself meer as een keer weerspreek. Sy weergawe is onwaarskynlik," het die landdros gesê.
Vonnisoplegging is vir 'n korrektiewe verslag tot 29 Augustus uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'