OUDTSHOORN NUUS - Borgtog is verlede week in die Oudtshoorn-landdroshof geweier aan 'n man wat van aanranding, verset teen arrestasie en aanranding van 'n polisiebeampte aangekla word.
Die man wat homself in die hof verteenwoordig, het aanvanklik ook sy misdaadrekord bevraagteken.
Die staatsaanklaer, Leonie van Rooyen, het die hof versoek om borgtog aan Ricardo Booysen te weier omdat hy waarskynlik weer by misdaad betrokke kan raak en nie enige borgtogvoorwaardes sal nakom nie.
Sy moeder het ook die hof versoek om borgtog te weier omdat hy almal by die huis traumatiseer.
Booysen het die bewerings ontken.
Volgens hom word hy die sondebok in die huis gemaak terwyl al die ander kinders kan doen wat hulle wil.
Hy het ontken dat hy sy moeder al met 'n mes gedreig het.
Vyf vorige veroordelings asook een van roof is ook aangevoer as redes dat borgtog nie toegestaan word nie.
Landdros Roelf Konstabel het die staat gelyk gegee, borgtog geweier en Booysen aangeraai om regshulp te kry.
Die saak is onbepaald uitgestel omdat hy in 'n ander hof verhoor sal word.
Hy het vroeër beswaar aangeteken teen die vertraging van die saak omdat, volgens hom, die regte hofprosedures nie gevolg word nie.
"Die staat moet sy sake in orde kry," het Booysen gesê.
ARTIKEL: GARNETT WICOMB, OUDTSHOORN COURANT KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'