OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van’n 55-jarige man van Oudtshoorn wat van verkragting van ‘n 21-jarige man aangekla word, is in die Oudtshoorn-streekhof tot 9 April uitgestel omdat ‘n DNS-verslag nog nie ontvang is nie.
Die beskuldigde het na bewering die aand van 12 Januarie 2023 saam met die klaer in die rigting van Buffelsdrif gery.
Die twee het glo langs die pad stil gehou en saam gedrink.
Luidens die beskuldigde se verklaring wat deur die ondersoekbeampte, ao. Anton Kock, verlede Woensdag in die hof voorgelees het, kan hy nie onthou dat hy seksuele dade met die klaer gepleeg het nie, omdat hy onder die invloed van alkohol was.
Die beskuldigde se regsverteenwoordiger, adv. Jerome van der Schyff, het beswaar gemaak teen die lees van sy kliënt se verklaring omdat dit volgens hom irrelevant is. Sy beswaar is egter deur die hof geweier.
Die saak dien voor streeklanddros Daniel Boks en is na die getuienis van Kock, op versoek van die staatsaanklaer, Nadia Arnolds, uitgestel omdat ‘n DNS-verslag nog nie ontvang is nie.
Die beskuldigde is op borg.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’