PRINS ALBERT NUUS - 'n Jong Oosterling het Maandag 7 Januarie, in die landdroshof op Prins Albert verskyn op aanklag van die onwettige besit van bedreigde spesies.
Dit was sy eerste verskyning en hy is nie gevra om te pleit nie. Dit kom nadat hy Vrydag 4 Januarie in 'n huis op die dorp waar hy oornag het, betrap is met 21 skerpioene, twee spinnekoppe en twee oorkruipers wat lewendig in plastieksakke en houers in 'n kas gevind is.
Hy is in hegtenis geneem omdat hy geen dokumente kon verskaf om te bewys dat hy die eienaar is, of waarom die diere in sy besit is nie. Na raming is die straatwaarde ongeveer R16 000, het kapt. Frederick van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder, vroeër aan die media gesê.
Geen inligting is nog bekend oor die man self, waar hy vandaan kom, waarheen hy op pad was en waarom hy hom spesifiek op Prins Albert bevind het nie, het die staatsaanklaer, Marvon de Vos, gesê.
Landdros Tom Claassen het in Engels aan die man gesê hy het die reg om sy eie prokureur aan te stel, van regshulp gebruik te maak of sy eie verdediging te behartig. Die man, volgens skatting in sy twintigs, het egter verward voorgekom en kon nie die hofprosedure volg nie.
Op Claassen se vraag hierna of hy Engels óf Afrikaans verstaan, het hy sy kop ontkennend geskud. Claassen het De Vos gevra om die hulp van die staat se tolkdienste in te roep. De Vos het gesê hy het dit reeds gedoen, maar die hoof van provinsiale tolkdienste is nog met verlof.
Claassen het die saak tot 14 Januarie uitgestel om 'n tolk aan te stel en sodat 'n borgtogprofiel vir die beskuldigde gebou kan word. Die polisieondersoek duur voort en die man bly in aanhouding in die plaaslike gevangenis.
Volgens artikels op die internet is daar wêreldwyd 'n groot aanvraag vir veral skerpioengif en die handel van skerpioene en gif is 'n uiters winsgewende besigheid.
Skaars en uiters giftige skerpioene uit Indië kan byvoorbeeld vir tot soveel as R7 000 elk verkoop word.
Daar word ook berig dat sommige skerpioene se gif duurder per gram kos as goud. Lande waar die handel in skerpioene uiters winsgewend bedryf word is onder andere China, Irak en Indië.
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'