'n Man van Amaliënstein wat met toestemming geslagsgemeenskap met 'n elfjarige meisie gehad het is in die Oudtshoorn-streekhof aan verkragting skuldig bevind en 10 jaar gevangenisstraf opgelê.
Alhoewel die kind erken het dat sy ingestem het tot seks met die 26-jarige Dominicque Philander, het streeklanddros Daniel Boks hom aan verkragting skuldig be-vind omdat 'n kind onder 12 jaar, volgens die grondwet van die land, nie tot seks toestemming kan gee nie.
Die staatsaanklaer, Nadia le Roux, het die hof meegedeel dat die kind aanvanklik aan almal voorgegee het dat sy verkrag is omdat sy skaam was. Sy het egter teen die einde van die saak met die sak patats uitgekom en erken dat Philander haar nie verkrag het nie.
"Die beskuldigde is egter meer as twee keer ouer as die kind en moes van beter geweet het."
Volgens haar neem die soort misdryf al hoe meer toe in die be-dieningsgebied van die hof. Daarby doen die kind se ma ook niks.
Philander se regsverteenwoordiger het die hof versoek om af te wyk van die voorgeskrewe vonnis vir die verkragting van 'n min-derjarige omdat wel genoegsame getuienis daarvoor voor die hof gebring is.
Die kind gedra haar volgens die verdediging soos 'n groot vrou en drink en rook saam met volwassenes.
Die ondersoekbeampte ao. Gert Thysse, het ook getuig dat sy leuens aan almal vertel het en aanbeveel dat Philander korrektiewe toesig of 'n opgeskorte vonnis opgelê word.
Die kind se moeder het getuig dat sy daartoe ingestem het dat haar kind uit haar sorg geneem kan word.
Die landdros het dit duidelik gestel dat lewenslange tronkstraf steeds van toepassing is alhoewel die kind Philander toestemming gegee het.
"Dit wil hier voorkom asof die beskuldigde die slagoffer is en word daar van die meisie vergeet. Ons het hier met 'n kind te doen wat hulp nodig het. Ek sien nie
iemand van die departement maatskaplike dienste in die hof nie. Dis kommerwekkend," het die landdros gesê.
"Dit is hartseer dat die kind se moeder niks gedoen het aan haar kind se gedrag nie. Sy is blootge-stel aan seksuele vergrype, vertel 'n wit leuentjie dat sy verkrag is en vandag staan almal koud teenoor haar.
"Die gedagtegang is heeltemal verkeerd. Iets drasties moet vir die kind gedoen word. Daar moet ingegryp word om haar op die regte pad te kry en die boek moenie vandag toegemaak word nie," het die landdros gesê.
Hy het met vonnisoplegging in ag geneem dat Philander oop kaarte met die hof gespeel en skuldig gepleit het. Hy is ook 'n eerste oortreder.
Die landdros het saamgestem dat lewenslange gevangenisstraf onvanpas sal wees en daarvan afgewyk weens die getuienis voor die hof.
Philander is tot 10 jaar tronkstraf gevonnis waarvan ses jaar voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is.
Hy is onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit en die hof het ook gelas dat sy naam in die nasionale register vir seksoortreders opgeneem moet word.