OUDTSHOORN NUUS - 'n 45-jarige man van Oudtshoorn het Sondagaand alles verloor nadat sy informele woning in GG-kamp tot op die grond afgebrand het.
Volgens Jacobus Witbooi het hy Sondagaand vinnig winkel toe gegaan en toe hy terugkeer was sy huis in vlamme gehul.
"Ek het twee seuntjies wat af en toe by my bly. Hulle klere was ook by my in die huis gewees. Ek het niks meer oor nie. Alles wat ek besit het, is in die brand vernietig."
Witbooi sê hy weet glad nie hoe die brand ontstaan het nie.
"Ek het nie kos gemaak nie, daar het nie eens 'n kers of 'n vuurtjie buite gebrand nie."
Witbooi se bure het ook Maandag aan die Oudtshoorn Courant gesê dat die omstandighede rondom die brand vir hulle baie vreemd is.
"Ons was in die huis gewees en die volgende oomblik was dit net rook en vlamme langsaan. Ons het eers gedink hy is nog in die huis en toe ons weer sien toe kom hy aangestap na die huis toe. Daar was niks wat gebrand het by hom nie."
Witbooi sê hy weet nie wat hom nou te doen staan nie.
"Ek is besig om aansoek te doen vir plate, maar het intussen nie heenkome nie. Tot my skoene het uitgebrand."
Jacobus Witbooi se woning in GG-kamp is in puin gelê na 'n brand Sondagaand daar uitgebreek het. Foto: Liezl van Niekerk
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'