OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van 'n man van Hartenbos wat tereg staan op ses aanklagte van verkragting en seksuele aanranding van twee minderjarige seuns, is die afgelope week in die Oudtshoorn-streekhof vir verdere getuienis tot 19 Oktober uitgestel nadat die staat sy saak gesluit het.
Righardt Myburg word daarvan aangekla dat hy tussen 2014 en Augustus 2019 by verskeie geleenthede die twee broers verkrag en seksueel aangerand het.
Die hof het verlede week die getuienis van die kinders se ma en 'n pastoor aangehoor.
Volgens die ma het een van die kinders haar meegedeel dat hulle die dade van hul oom stilgehou het omdat hulle haar nie wou seermaak nie.
Sy het Myburg vertrou en nie verwag dat hy sulke dinge met haar kinders sou doen nie.
Volgens die pastoor het die kinders, vandag onderskeidelik 13 en 14 jaar oud, nie berading ontvang nie omdat hulle eers wou sien dat die saak afgehandel word.
Die staatsaanklaer, Anzelle Loubsher, het 'n versoek van die beskuldigde dat die saak in die Mosselbaai-streekhof voortgesit word teengestaan waarna streeklanddros Sylvia Mandla, dit vir verdere verhoor, en weer op Oudtshoorn, tot 19 Oktober uitgestel het.
Myburg is op borgtog vrygelaat.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'