BEAUFORT-WES NUUS - 'n Man van Beaufort-Wes, wat aan twee moorde en aanranding met die opset om ernstig te beseer skuldig bevind is, is in die Oudtshoorn-streekhof effektiewe tronkstraf van 34 jaar opgelê.
Raymond Kelly (35), ook bekend as 'R Kelly' het op 12 Julie 2015 vir Brandon de Wee op die plaas Snydersfontein, 36 keer met 'n mes gesteek en op Oujaarsdagaand 2015 die bejaarde Griet Plaatjies in Prince Valley, Beaufort-Wes, nege keer.
Hy het ook op 12 September 2017 sy meisie, Regina Saayman, met 'n sambok geslaan en geskop.
Kelly, sy vriend Michael Jacobs, Saayman en nog twee ander het op 12 Julie 2015 by vriende op die plaas Snydersfontein gaan kuier.
De Wee en sy vriende was op die plaas toe Kelly en sy vriende daar aangekom het. Daar was 'n drinkery en Kelly is later uit om te urineer. Met sy terugkoms was hy en De Wee in 'n argument toe hy De Wee verskeie kere met 'n mes gesteek het. Volgens hom het hy net een oog en net blindelings gesteek om homself te verdedig.
Hy het ook op 31 Desember 2015 na Plaatjies se huis in Prince Valley, Beaufort-Wes gegaan en na ene Dickey gesoek. Die oorledene en haar man het aan hom gesê dat Dickey nie daar woon nie. Kelley het egter die huis se deur oop geskop en die egpaar gekonfronteer.
Hy het die hof meegedeel dat Plaatjies hom in sy wang gesteek het waarna hy 'n mes gaan haal het en haar nege keer gesteek het. Van die steekwonde was in haar rug wat daarop dui dat sy wou vlug.
Kelly het onskuldig gepleit op al drie aanklagte en aangevoer dat hy in albei gevalle homself verdedig het omdat sy lewe in gevaar was. Hy het ook die aanranding van Saayman ontken.
Volgens hom het hy en Saayman die betrokke aand 'n paar kuierplekke besoek en gedrink, maar dat sy nie die waarheid praat wanneer sy getuig dat hy haar aangerand het nie.
Kelly se regsverteenwoordiger, adv. Pieter van Wyk, het vir sy vryspraak gevra omdat die staat nie sy saak bo redelike twyfel bewys het nie.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het egter verskil en die hof versoek om Kelly se getuienis te verwerp omdat dit nie redelik moontlik waar kan wees nie.
Hy het talle vorige veroordelings waarby geweld soos roof en aanranding betrokke is. Uit getuienis voor die hof en sy vorige oortredings is dit duidelik dat hy geweld gebruik om probleme op te los. Hy toon ook geen berou vir sy dade nie en het self sy verhoor vertraag deur voortdurend van regsverteenwoordigers te verander asook om vir getuies in sy verdediging te vra wat nie opgespoor kon word nie.
Goulding het die hof na die skuldig-bevinding van Kelly vir vonnisse van onderskeidelik 15 en 20 jaar vir die twee moorde gevra omdat geen wesenlike en dwingende omstandighede bestaan om van die minimum voorgeskrewe vonnis van 15 jaar af te wyk nie en vyf jaar vir die aanranding op sy meisie.
Van Wyk het die hof versoek om Kelly se lang tydperk in aanhouding vir vonnis in ag te neem.
Streeklanddros Ntsoki Moni, het met vonnisoplegging gesê Kelly is aan twee wrede moorde skuldig bevind en vir lank uit die gemeenskap geneem moet word. Hy toon ook geen berou nie.
Volgens die landdros het sy die vyf jaar wat hy in aanhouding was, afgetrek van die vonnis wat sy hom vir die moord op De Wee wou oplê, en hom daarvoor 14 jaar tronkstraf opgelê.
Vir die grusame moord op Plaatjies het sy hom die maksimum vonnis van 20 jaar opgelê, en drie jaar vir die aanranding van Regina Saayman.
Die hof het gelas dat die drie jaar samelopend met die 20 jaar uitgedien kan word vir effektiewe tronkstraf van 34 jaar.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’