ZOAR NUUS - Jakob Julies (53) woonagtig in Eerste Laan, Protea Park, het verlede Sondag gesterf nadat 'n slang hom in sy bed gepik het.
Hendrika Julies, Jakob se vrou het hartseer aan Oudtshoorn Courant vertel dat hulle nie net 'n broodwinner verloor het nie, maar ook die siel van hul gesin.
"Dis bitter hartseer. Ons is nou nog verslae. Dis nou die eerste keer dat ons sedert Sondag in die huis kom, op hierdie Maandagmiddag," sê sy.
Jakob het glo voor op sy bed gelê toe die slang, wat vermoedelik op daardie stadium alreeds in die bed saam met hom was, hom in die linkerarm gepik het. Jakob het binne minute gesterf.
'n Inwoner van Eerste Laan het vertel dat hulle juis vroeër ook 'n slang agter een van die inwoners se huise doodgemaak het.
Hierdie tragiese voorval volg op nog 'n slangbyt verlede Vrydagaand waar Portia Pienaar (16) in die voet deur 'n Kaapse Kobra gepik is en na twee dae in die George-hospitaal ontslaan is.
Volgens nog 'n verslae inwoner is Zoar se mense na hierdie slangbyte nou selfs bang om agter in hulle erwe te sit. "Hulle hou selfs hulle deure en vensters toe. Dis maar menslik, want daar was nog altyd vyandskap tussen slang en die mensekind."
'Ons bring jou die nuutste Zoar, Karoo nuus'