OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Calitzdorp wat 'n vriend met 'n knopkierie oor die kop geslaan het, is Dinsdag in die Oudtshoorn-streekhof vrygespreek omdat staatsgetuies verskillende weergawes van die voorval gegee het.
Christo Pockpas (26) van die Valentynsdorp-plakkerskamp in Bergsig het tereggestaan op aanklag van poging tot moord nadat hy op 30 September verlede jaar vir Lodewyk Neville Jaftha twee keer met die knopkierie oor sy kop en een keer teen sy mond geslaan het.
Jaftha het sy bewussyn 'n paar dae later in die George-hospitaal herwin.
Pockpas het getuig dat Jaftha hom met 'n mes wou steek en hy uit noodweer opgetree het.
Sy regshulpprokureur, Brian Carelse, het die hof vir sy vryspraak gevra omdat die staat nie sy saak bo redelike twyfel bewys het nie.
Volgens Jaftha het Pockpas hom sonder rede aangeval.
Die staatsaanklaer Hyron Goulding, het die hof versoek om Pockpas skuldig te bevind omdat hy nie na die eerste hou ophou slaan het nie. Hy het die opset gehad om moord te pleeg.
"Die klaer het volgens 'n mediese verslag lewensgevaarlike beserings opgedoen en die beskuldigde se weergawe behoort verwerp te word," het Goulding betoog.
Streeklanddros LA Wilkens het egter bevind dat die staat nie sy saak bo redelike twyfel bewys het nie en Pockpas vrygespreek.
ARTIKEL: GARNETT WICOMB, OUDTSHOORN COURANT KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'