DE RUST NUUS - 'n Man van Vlakteplaas naby De Rust, wat sy broer met 'n panga oor die kop gekap het, is in die Oudtshoorn-streekhof aan poging tot moord skuldig bevind.
Jan Swarts (28) se verweer dat hy in noodweer opgetree het, is deur streeklanddros Ntsoki Moni verwerp.
Swarts het getuig dat sy broer, Gideon (27), hom die aand van 9 Maart 2018 met ‘n bottel wou slaan toe hy die panga gegryp het om hom te verdedig.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof vir Swarts se skuldigbevinding gevra omdat hy die doel gehad het om sy broer dood te maak. Hy sou dit gedoen het as sy pa nie tussenbeide getree het nie, en nie een van die getuies in die saak het gesien dat die oorledene ‘n bottel in sy hand gehad het nie.
Volgens Goulding is dit duidelik dat Swarts sekere dinge onthou en ander nie en dat hy nie in selfverdediging opgetree het nie.
Swarts se regshulpprokureur, Wenzel Botha, het betoog dat elke persoon geregtig is om homself te verdedig.
“Die beskuldigde se lewe was in gevaar en hy het hom verdedig.”
Volgens Botha is geen getuienis voor die hof dat die beskuldigde sy broer steeds wou aanrand toe hy op die grond gelê het nie.
Die twee broers was in ‘n woordewisseling omdat die beskuldigde glo die betrokke aand met sy vriendin in die huis wou slaap.
Hy kon nie op vrae van die landdros ‘n verduideliking gee hoe hy daarin geslaag het om die panga agter ‘n kas in die slaapkamer kon uithaal terwyl hy, volgens sy eie getuienis, deur sy broer met ‘n bottel aangeval word.
Jan Windvogel, ‘n buurman, het getuig dat hy die stryery en bakleiery gesien en met die twee broers gaan praat het.
Gideon het opgehou maar die beskuldigde wou nie.
Streeklanddros Ntsoki Moni het in haar uitspraak gesê die klaer het wonde aan sy kop en skouer van onderskeidelik 8 cm en 11 cm opgedoen waarvoor hy hegsteke ontvang het.
Dit was lewensgevaarlike beserings.
Die hof het bevind dat die beskuldigde se lewe nooit in gevaar was nie en hy kon nie verduidelik hoe hy homself verdedig het nie.
Die saak is vir slotargumente en vonnis uitgestel tot 17 Mei.
'Ons bring jou die nuutste De Rust, Klein Karoo nuus'