OUDTSHOORN NUUS - Alex Nell (51), van Mpumalanga, het 'n paar dae gelede in Oudtshoorn aangekom nadat hy 'n uitmergelende 1 600 km vanaf Lydenburg (Mpumalanga) met sy fiets afgelê het.
Nell vertel dat hy sedert 1992 Suid-Afrika met sy fiets deurkruis. "Ek het geen familie nie en ek pak hierdie langafstandritte met die grootste geesdrif aan omdat ek graag met nuwe mense in aanraking wil kom."
Op 'n goeie dag lê hy maklik 70 km af en slaap hy gereeld langs die pad in sy tent. Volgens Alex het hy nie op die oomblik 'n vaste woonadres nie, en is hy grotendeels afhanklik van sy Sassa-pensioenfonds. Fietstegnici in dorpe wat hy besoek herstel ook gereeld sy fiets gratis, waaroor hy baie dankbaar is.
"Fietsry is my leefstyl en daarom laai ek gereeld foto's van my avonture op my Facebook-blad." Alex meld ook onder meer by elke plaaslike polisiestasie aan, sodat hulle bewus kan wees van sy teenwoordigheid. Sommige kere slaap hy ook by die stasie oor. Op die oomblik gaan Alex by Kleinplasie-vakansieoord tuis en vertrek oor drie dae na Beaufort-Wes.
Enige persoon wat Alex wil ondersteun met kos en energiedrankies vir die pad kan hom kontak by 063 433 4417.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'