OUDTSHOORN NUUS - ‘n 58-jarige man is gisteraand, op sy verjaarsdag, na bewering met ‘n skroewedraaier doodgesteek.
Volgens John Jacob Hendricks se dogter, Senobia Hendricks, het haar pa in GG-kamp, Oudtshoorn gewoon en sy en haar ma in 13de Laan.
“Ek het gisteraand uitgevind my pa is gesteek. Die persoon het tot hier gehardloop en gesê hy en my pa het baklei en toe steek hy my pa. Toe ek by my pa se huis aankom het die ambulanspersoneel hom reeds dood verklaar.”
Volgens haar het die persoon gesê, hy het nie bedoel om Hendricks dood te steek nie en het op die toneel gewag tot die polisie opgedaag het.
Hendricks sê haar pa was haar held, hy het so ‘n mooi hart gehad.
“Hy was so behulpsaam en sou homself tekort doen om ander te help.”
Volgens haar was hy ook baie lief vir kinders.
“Hy was bitter lief vir sy twee kleinkinders en hy het altyd kinders probeer help. As hy sien ‘n kind is honger of vra vir iets om te eet het hy altyd gegee as hy gehad het. Ek gaan my pa baie mis.”
‘n Navraag is aan die polisie gestuur en terugvoering sal bygewerk word sodra dit ontvang is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’