OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Bridgton met agt vorige veroordelings, wat op parool was toe hy weer 'n huiswinkel oopgebreek het, is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof vir vyf jaar tronk toe gestuur omdat 'n ligter vonnis nie gepas sal wees nie.
Edwin Jonkers (27) is daarvan aangekla dat hy op 8 Mei 2020 die huiswinkel van Cornelius Stols in Buysstraat, Bridgton oopgebreek het met 'n doel onbekend aan die staat.
Die staatsaanklaer Brandon Smith, het die hof versoek om Jonkers vir lank uit die gemeenskap te verwyder omdat vorige vonnisse nie die gewenste uitwerking op hom gehad het nie en hy net voortgaan om misdaad te pleeg. Hy het voorheen korrektiewe toesigvoorwaardes verontagsaam en was op parool toe hy die klaer se eiendom oopgebreek het.
Sy regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, het die hof vir 'n gedeeltelike opgeskorte vonnis gevra en toegegee dat hy al talle geleenthede in die verlede gekry het wat hy nie benut het nie. Streeklanddros Sylvia Mandla, het met vonnisoplegging gesê die hof het 'n plig teenoor die gemeenskap en moet 'n sterk boodskap uitstuur dat sulke gedrag nie geduld kan word nie. Hoewel niks van die klaer gesteel is nie, is sy deure gebreek en moes hy nuwe slotte aanbring. Jonkers toon geen berou nie en het duidelik geen respek vir andere se eiendom nie. Volgens die landdros moet mense deesdae duur alarmstelsels by hul besighede aanbring en slapelose nagte deurbring oor mense soos Jonkers.
"Indien die beskuldigde nie 'n nuwe blaadjie omslaan nie gaan hy nog baie misdade pleeg," het die landdros gesê.
Jonkers is ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'