CALITZDORP NUUS - 'n Man van Calitzdorp is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof vyf jaar gevangenisstraf opgelê vir die besit van petrolbomme, onwettige ammunisie en dwelms.
Kenneth Loff (37) het skuld beken op twee van die aanklagte, maar is ook op die derde klag vir die besit van twee petrolbomme skuldig bevind.
Die staatsaanklaer Willem Vister, het die hof vir direkte gevangenisstraf gevra omdat dit die enigste gepaste vonnis sal wees. "Loff kon met die petrolbomme groot skade veroorsaak het en dit is duidelik dat hy planne gehad het met die ammunisie," het Vister gesê.
Loff se weergawe dat hy die twee petrolbomme van bendelede afgevat en dit aan die polisie wou oorhandig, is deur die hof verwerp. Hy kon nie verduidelik waarom hy dit nege dae na die beweerde voorval nooit gedoen het nie.
Volgens Vister is Loff aan ernstige misdrywe skuldig bevind. Dwelms is een van die groot euwels in die gemeenskap met gevaarlike gevolge. Loff se regshulpprokureur, Brian Carolus, het die hof versoek om die klagtes vir vonnisdoeleindes saam te voeg.
Hy het die ammunisie versamel, die dwelms was vir sy eie gebruik en die plofstof is nie onregmatig gebruik nie.
Streeklanddros LA Wilkens het Loff tot een jaar tronkstraf gevonnis vir die besit van dwelms wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is, een jaar vir die onwettige besit van ammunisie en drie jaar, die minimum vonnis vir die oortreding van die Wet op plofstowwe, ingevolge Artikel 276 (1) (i) vir die besit van petrolbomme.
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'