DE RUST NUUS - 'n Man (26) van De Rust wat van poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer en roof skuldig bevind is, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof tot altesaam 21 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Jacques Snyman is daaraan skuldig bevind dat hy die ma van een van sy kinders, Brolene Damons, op 1 November 2017 met 'n mes gesteek het, die ma van 'n tweede kind, Nicole Sass, op 29 September 2018 met 'n baksteen gegooi en haar geklap en geskop het en dieselfde dag 'n niggie, Sharifa Swartbooi, van 'n R1 000 beroof het.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof vir vonnisse gevra wat 'n duidelike boodskap na buite sal stuur dat die howe nie geweld teen vroue duld nie.
Snyman is ook nie 'n eerste oortreder nie. Hy het sewe vorige veroordelings agter sy naam.
Snyman het onskuldig gepleit op al drie aanklagte, maar sy getuienis is deur streeklanddros Ntsoki Moni verwerp.
Sy het Snyman tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis vir poging tot moord, agt jaar vir aanranding met die opset om ernstig te beseer en vyf jaar vir roof.
Die vonnisse vir aanranding en roof kan samelopend uitgedien word wat beteken dat Snyman effektief tronkstraf van 16 jaar moet uitdien.
'Ons bring jou die nuutste De Rust, Klein Karoo nuus'