OUDTSHOORN NUUS - 'n Man wat aan verkragting skuldig bevind is en daarna al skellende uit die hofsaal gestorm het, is voorverlede week in die Oudtshoornstreekhof vir minagting van die hof tot ses maande gevangenisstraf gevonnis.
Sy vonnisoplegging vir die verkragting is uitgestel.
Streeklanddros Daniel Boks het die weergawe van die beskuldigde, Clive Louw, dat die klaagster hom toestemming tot seks gegee het as leuenagtig en vals bevind en dit verwerp.
Louw is daaraan skuldig bevind dat hy die vrou in sy hokkie verkrag het. Snuffelhonde van die polisie het drie kondome gevind wat hy oor 'n heining weggegooi het.
Die hof het bevind dat Louw nie 'n goeie getuie was nie. Sy algehele ontkenning, ten spyte van verdoemende getuienis teen hom, is deur die hof verwerp.
"Die staat se saak berus nie uitsluitlik op deskundige getuienis of DNS nie," het die landdros gesê.
Die klaagster het onmiddellik die verkragting gerapporteer en 'n goeie indruk op die hof gemaak. Haar getuienis is as betroubaar en geloofwaardig bevind.
Louw se ellelange lys van vorige veroordelings, altesaam 30, is in die hof uitgelees. Die landdros het gevra of hy dit erken waarop hy luidkeels uitgeskree het dat hy niks daarvan weet nie. Een van die veroordelings is verkragting waarvoor hy agt jaar tronkstraf opgelê is.
"Ek word skuldig bevind sonder DNS en sonder bewyse," het hy gesê terwyl hy uit die hofsaal gestorm het.
Terwyl hy na die selle op pad was, het hy ook sy regshulpprokureur, Wenzel Botha, uitgeskel.
Botha het hom hierna aan die saak onttrek.
Toe Louw later teruggebring is na die beskuldigdebank is hy vir minagting van die hof tot ses maande gevangenisstraf gevonnis.
Hierop het hy aan die landdros gesê dat die straf "sommer niks is nie".
ARTIKEL: GARNETT WICOMB, OUDTSHOORN COURANT KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'