Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van George (59) is vir dronkbestuur in hegtenis geneem na 'n ongeluk Sondagaand in Meiringspoort waarin een persoon dood is.
Kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het gesê die mense wat in die botsing betrokke was, is van Thembalethu en Parkdene in George.
Daar was vier insittendes in die voertuig, drie mans en 'n vrou. Die ander drie insittendes het ligte beserings opgedoen en is nie na die hospitaal geneem nie.
"Dit blyk dat hulle in die rigting van Beaufort-Wes gery het toe die bestuurder van die Toyota Etios beheer oor die voertuig verloor het. Zolani Ntsedwana (32) het op die toneel aan sy beserings beswyk."
Volgens Pojie is die bestuurder op die toneel gearresteer en later op waarskuwing vrygelaat.
"Sodra die bloedtoetsuitslag ontvang is sal die bestuurder van die voertuig in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn."
Pojie sê die polisie is steeds met die ondersoek besig.
Lees 'n vorige artikel: 1 sterf in ongeluk in Meiringspoort
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'