DYSSELSDORP NUUS - Die saak teen 'n man van Dysselsdorp wat twee tieners van kontant, brood en wors beroof het, is Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof vir vonnisoplegging uitgestel.
Die 23-jarige Henry Rondganger is skuldig bevind op aanklag van roof met verswarende omstandighede.
Hy het glo 'n 14-jarige seun met 'n mes gedreig en van 'n brood, wors en R3 kontant beroof, en op dieselfde dag 'n 10-jarige seun van 'n brood en R12 kontant terwyl hulle van 'n kafee onderweg was huis toe.
Die staatsaanklaer Hyron Goulding, het die hof vir direkte gevangenisstraf gevra alhoewel die items wat geroof is minimaal was. Die vonnis moet as afskrikmiddel dien vir voornemende rowers sowel as vir Rondganger.
"Die gemeenskap plaas volle vertroue in die howe om gepaste vonnisse op te lê. Genadiglik is die mes nie gebruik om die klaer te steek nie, en daarom sal die helfte van die voorgeskrewe vonnis van 15 jaar nie onvanpas wees nie," het Goulding gesê.
Die saak dien voor streeklanddros Retha Pretorius.
'Ons bring jou die nuutste Dysselsdorp, Klein Karoo nuus'